Die ruimte, biljoenêrs en ons nuwe era van ruimtevaart

Daar was ’n tyd toe die supermoondhede in ’n stryd om algehele oorheersing gewikkel was en die wêreld op die randjie van uitwissing gestaan het. Daar was ’n tyd toe manne in kolosse genaamd Redstone, Atlas, Titan en Saturn met honderde duisende ponde stootkrag agter hulle na die hemele gereik het, en die name Sputnik, Laika, Gagarin, Shepard en Glenn van die ooste na die weste weerklink het. Daar was ’n tyd toe twee nasies hulle individuele hulpbronne gebruik het om die eerste te wees in die wedren na dit wat agter die sterre lê – vir die ideologieë van kapitalisme en kommunisme, vir die goeie ou VSA en vir Moedertjie Rusland se Sowjetmag.  Hoe het dinge nie verander nie.

Daar was verlede jaar ’n geweldige toename in kommersiële ruimtereise wat deur biljoenêrs soos Richard Branson (Virgin Galactic), Elon Musk (SpaceX) en Jeff Bezos (Blue Origin) gedryf is.  

“Ek dink dat ons aan die begin staan van ’n ongelooflike keerpunt in die geskiedenis van menslike ruimtereise,” sê dr Pieter Kotzé van die Sentrum vir Ruimtenavorsing aan die Noordwes-Universiteit.

“Hierdie toegang tot die ruimte hang tans van die grille en gunste van ’n handjievol biljoenêrs af. Ten spyte van ’n klompie hoogdrawende retoriek, sukkel die leiers in die bedryf steeds om ’n saak uit te maak dat hulle vuurpyle meer as duur reise vir die rykes en beroemdes te bied het. ‘Daar is ’n oppervlakkige poging om dit na vaartuie vir kommersiële wetenskap te laat lyk, maar dis baie meer soos ’n seiljag of ’n pretrit,’ sê die Universiteit van Chicago se ruimtegeskiedkundige Jordan Bimm. Tot dusver word die koste van ’n kaartjie vir ’n rit tot aan die rand van die ruimte in ses syfers gemeet – $200 000 of meer – terwyl ’n ekspedisie in ’n wentelbaan tot agt syfers beloop.”

Kotzé haal Piyush Mehta, assistentprofessor in Meganiese en Lugvaartingenieurswese by die West Virginia Universiteit aan, wat voorspel dat ruimte-ekonomie op pad is om teen die einde van 2030 teen ’n triljoen dollar gewaardeer te word.

Daar is egter faktore wat in ag geneem moet word.

“Tog word ruimtebates – wat in die ruimte geplaas word soos dié vir navigasie-, weer- en kommunikasiesatelliete wat ons samelewing daagliks van nut is – deur ruimte-afval in ’n lae wentelbaan (low-Earth orbit) op ’n hoogte van ongeveer 300 tot 400 km bedreig. Dit skep ook ’n werklike gevaar vir kommersiële ruimtetoerisme,” waarsku Kotzé.  

Hoewel dit nou meer op die voorgrond is as ooit tevore, is belegging in die privaat sektor vir ruimtevlugte niks nuuts nie.

“NASA ondersteun die ontluikende privaat ruimtebedryf al dekades lank en belê daarin met die ondertekening van verskeie kontrakte vir toerusting en dienste, insluitende met die vroeëre groentjie SpaceX, wat in 2022 20 jaar oud word. NASA belê tans in Blue Origin en twee ander maatskappye om ontwerpe te ontwikkel vir ’n kommersiële ruimtestasie om die internasionale ruimtestasie (IRS) op te volg. Dit is deel van ’n langtermynplan om die privaat sektor in tuie in ’n laewentelbaan te ondersteun, terwyl uitgawes verminder word en meer van die agentskap se begroting vir langafstandeksplorasie beskikbaar gemaak word,” sê Kotzé.

Waar ruimtereise vroeër die verbeelding van die wêreld aangegryp het, glo Kotzé dat, net soos die lugvaartbedryf, die onmoontlike spoedig die norm sal word.  

“Indien die 20ste-eeuse lugvaartbedryf enige riglyn is, sal hierdie vlugte as luukshede begin, pryse sal daal, en toegang tot die ruimte sal verder strek as superryk mense namate die mark oopmaak en tegnologieë en infrastruktuur verbeter.  As jy na 100 jaar gelede terugkeer, was dit nie jou alledaagse persoon wat lugdienste benut het wat toe net begin het om uit te vind hoe om die vlugroetes rondom die wêreld aan te pak nie. Deesdae kan enigeen vir ’n baie redelike prys op ’n vliegtuig spring en nie twee keer daaroor nadink nie. Dit is baie veilig. Dit is waarskynlik die visie vir ruimtevlugte. Die langtermyndoelwit is om die Aarde se lae wentelbaan oop te maak om sy eie markplein te word.

 “Ek glo werklik dat om die Aarde uit die ruimte te kan sien, ’n mens kan verander en uiteindelik die mens en die Aarde op ongekende maniere kan help. Jy hoef nie meer ’n opgeleide ruimtevaarder te wees om die ruimte te betree nie.”

Dan is daar ook die geweldige tegnologiese vooruitgang wat na vore gekom het.

“Die hergebruik van vuurpyle, wat vir die eerste keer deur Elon Musk se SpaceX-maatskappy bekendgestel is, het die koste van ruimtereise dramaties verminder. Die voorkeurkarweier van ruimtereisigers en voorraad na die IRS is op die oomblik SpaceX. Privaat vlugte lyk tans of dit veelvuldige dinge tegelykertyd kan omvat: Hulle is wetenskaplike sendings, ekotoerisme-ekspedisies, en seiljagvaarte wat deur beroemde baronne gelei word. Ons moet nog sien wat die gekombineerde rol van hierdie sendings sal wees. Ons staan aan die voorpunt van die groot bekendstelling van die ruimte.”

Die ruimte was eens ’n bestemming wat vir slegs ’n paar jong manne en vroue beskore was. Daardie tyd is verby.   

 

....

Dr Pieter Kotzé

Submitted on Thu, 01/27/2022 - 14:01