Comrades-held Adele gaan haar staal in Indië toon

Die burgers van Hyderabad in Indië kry in November ’n klein bietjie verligting van die versengende hitte wat so dikwels die hoofstad van die suidelike deel van Indië se Telangana-staat teister.

Dit gaan egter nie die geval op 5 November wees wanneer die vuurwarm-superster van ultramarathons van die Noordwes-Universiteit (NWU), dr Adele Broodryk, as deel van Atletiek Suid-Afrika se span aan die 2023 IAU 50 km Wêreldkampioenskap gaan deelneem nie.

“Ek is geweldig opgewonde om ons land tydens die IAU 50 km Wêreldkampioenskap te verteenwoordig. Dit gaan vir my ’n nuwe uitdaging wees, aangesien ek nog nooit internasionaal deelgeneem het nie. Ek het Indië nog nooit besoek nie, dus sien ek werklik uit daarna om te gaan en hulle kultuur te ervaar, maar ook om in baie ander omstandighede en buite ons grense te hardloop,” sê Broodryk.

“Dit was nog altyd ’n groot droom van my om Suid-Afrika te kan verteenwoordig, en dit is al ’n rukkie op my kluitklaplys. Ek wil egter nie net my land verteenwoordig nie, ek wil ook my land op my trots maak. Ek fokus dus op die oomblik werklik hard op my oefening en voorbereiding. Ek is gewaarsku dat Indië baie warm is, met hoë vlakke van humiditeit, daarom is dit faktore wat in ag geneem moet word. Ek sal vir drie uur lank in daardie toestande moet meeding, daarom sal kondisionering van kardinale belang wees om te verseker dat ek aan die toestande gewoond sal wees.”

Volgens Broodryk is ’n ander sleutelaspek van haar voorbereiding haar spoedwerk. Sy het uitgeblink in die uitmergelende afstande van die Comrades Marathon – waar sy in twee agtereenvolgende jare algeheel derde en tweede geëindig het – en die korter afstand by die Wêreld Kampioenskap beteken sy sal haar spoed dienooreenkomstig moet aanpas. Dit beteken dat sy vroeër en harder haar voet op die pedaal sal moet sit.

Dit, saam met haar groter fokus op haar dieet, is besig om haar vir sukses voor te berei. Sy is al reeds baie goed daarmee aan die gang.

Prof Adele

dr Adele Broodryk

Submitted on Thu, 09/14/2023 - 09:29