Charonike bly radio se goue meisie

Sy is die onbetwiste goue meisie van die Noordwes-Universiteit se klankgolwe, en op Vrydag 30 Julie het Charonike Nel dit weereens bewys toe sy tydens die nasionale Radiotoekennings as die Beste Kampus Ontbytprogram-aanbieder aangewys is.

Haar houvas op toekennings blyk geen einde te ken nie. Nel, wat stasiebestuurder van PUKfm 93.6 is, bloos tamatierooi wanneer daar oor haar lys prestasies uitgevra word.

Sy spog reeds met 21 radiotoekenningnominasies en vyf eerste plekke, wat haar opname in die Bright Stars-klub insluit.

“Ek is baie, baie dankbaar vir die toekenning. Dit is altyd ʼn ongelooflike voorreg om op ʼn nasionale vlak erken te word. En ek dink vir PUKfm self is dit die nominasies wat ons kry wat die meeste tel. Ons studente is tussendeur hulle studies deeltyds betrokke, en dit is ʼn beloning vir hul passie en lojaliteit. Elke toekenning en nominasie behoort aan die stasie, en aan die fantastiese groep studente wat elke liewe dag hulle harte en siele, hulle bloed, sweet en trane daarin stort,” sê Nel.

PUKfm 93.6 het erkenning as een van die topvyf-kampusradiostasies in die land ontvang. 

“Ten opsigte van toekomsplanne vir die stasie probeer ons elke dag werk om seker te maak dat ons ʼn topleerplatform is om goed afgeronde, professionele werknemers vir die radiobedryf te lewer. Alles wat by PUKfm gebeur, gaan oor ons studente, dit gaan oor die gemeenskap, en dit gaan oor die luisteraar. Dit gaan daaroor om meer as net ʼn radiostasie te wees.”

........

Charonike Nel

Submitted on Fri, 08/06/2021 - 12:24