Benoem die beste van die bestes van die NWU-alumni

Die Noordwes-Universiteit (NWU) sal weer eens die merkwaardige prestasies van sy uitmuntende alumni vier tydens die sewende tweejaarlikse Alumni Uitnemendheidstoekenning-seremonie wat vir Oktober hierdie jaar beplan word.

Dit is die ideale geleentheid vir NWU-alumni, -personeel en -belanghebbers om verdienstelike alumni uit alle lewensterreine vir hierdie toekennings te benoem. Benoemings moet egter spoedig ingedien word, aangesien die tyd besig is om uit te loop en die voorleggings op 10 Junie sluit.

Die tweejaarlikse toekennings gee openbare erkenning vir besondere bydraes aan die samelewing en aan alumni wat ’n deurlopende toewyding aan die NWU toon. Hierdie alumni is die werklike fakkeldraers in ons gemeenskappe, plaaslik en in die buiteland, en laat nooit na om die NWU as wêreldwyd erkende universiteit bekend te stel nie.

Die ererol van vorige ontvangers sluit prominente en geëerde figure uit alle sfere van die Suid-Afrikaanse en internasionale samelewing in. Hierdie hoogaangeskrewe ontvangers sluit onder andere prof TT Cloete, regter Frans Kgomo, prof Anis Karodia, Deon Meyer, regter Bess Nkabinde, dr Bismark Tyobeka, prof Tjaart van der Walt en Sunette Viljoen in.

Die universiteit vra benoemings in nege kategorieë, naamlik kuns en kultuur, sakeleierskap, gemeenskapsbetrokkenheid, die onderwys, openbare diens, navorsing en sport, en vir die Jong Alumnus-toekenning en Leeftydprestasietoekenning. 

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, sê die prestasies van ons alumni is maar net een van die maniere waarop die uitnemendheid van die NWU ten toon gestel word. “Ons is bevoorreg om so ’n uitgelese belanghebbergroep te hê wat deurlopend daarna streef om ’n positiewe impak in die wêreld te maak.”

Benoemings kan elektronies ingedien word by www.nwu.ac.za/alumni-awards-nomination-form-2021.  Vir meer inligting, skakel Nicolize van der Walt by 018 285 2594 of stuur ’n e-pos aan nicolize.vanderwalt@nwu.ac.za.

Submitted on Wed, 05/12/2021 - 09:05