Belê in gelykheid

Die entiteit Gemeenskaps- Psigososiale Navorsing (COMPRES) in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het onlangs agt rekenaars (insluitende skerms, sleutelborde en muise) aan die Hoër Volkskool Potchefstroom geskenk. Die lessenaarrekenaars word nie meer by NWU gebruik nie, aangesien hulle nie met Windows 10 versoenbaar is nie. Die leesprogramme by die skool kan egter op Windows 7 loop en die rekenaars is dus van groot waarde vir die skool.

Die skool wou onder andere ’n leeslaboratorium skep waarheen onderwysers leerders wat sukkel, kan stuur sodat hulle bykomende hulp kan kry. Daar is tans geen befondsing van die Departement van Onderwys hiervoor of vir enige ander bykomende projekte beskikbaar nie. Die projek berus dus geheel en al op donasies en ondersteuning van die gemeenskap. COMPRES het ’n spesifieke belangstelling in die welstand van kinders en jongmense, en het die behoefte en geleentheid raakgesien om te help deur die rekenaars te skenk.

Om nie hulle hoërskoolloopbaan te voltooi nie, kan iemand vir die res van hulle lewe knou. Leerders wat die skool verlaat sonder om hulle skoolopleiding te voltooi, het baie minder vooruitsigte in die lewe. “Onlangse studies het getoon dat ondersteunende tegnologie, byvoorbeeld rekenaarlaboratoriums, leessentrums, witbordtegnologie, en toerusting om stadiger leerders te help, noodsaaklik is om sukses op hoërskool te bepaal,” sê prof Retha Bloem, navorsingsdirekteur by COMPRES.  

Die bewyse toon dat gelykheid wel met gehalte gepaardgaan; en om mislukking op skool te verminder, beteken dat die vermoë van individue en samelewings versterk word sodat hulle op ’n resessie kan reageer en ’n bydrae tot ekonomiese groei en maatskaplike welstand kan lewer. Dit beteken dat om in onderwys van ’n hoë gehalte te belê en te verseker dat daar vir almal vanaf hulle vroeë jare tot ten minste aan die einde van graad 11 gelyke geleenthede is, die winsgewendste opvoedkundige beleid is.

’n Groot persentasie van leerders by die Hoër Volkskool Potchefstroom is nie bevoorreg genoeg om hulle eie tegnologie of ’n rekenaar tuis te hê om hulle met hulle leerproses te help nie.    Dit skep ’n ongelyke konteks vir leerders in die skool. Die rekenaars wat COMPRES geskenk het, sal help om hierdie ongelykheid uit te skakel.

Die rekenaars wat geskenk is, sal in ’n leeslaboratorium gebruik word vir leerders om ná ure of tydens skoolure te gebruik. Die doel is dat hulle ook navorsing op die rekenaars kan doen, en sonder die las van data en uitdagings met internet toegang tot inligting en internetgeriewe kan hê. Mev Megan St. Clair-Chicker, die IT-onderwyser by die skool, sal van volgende jaar af die nuwe leesprogram bestuur. “Hierdie skenking word geweldig waardeer en sal my beslis volgende jaar baie in my leessentrum help,” sê sy.  

COMPRES sal in die toekoms ook betrokke wil wees om beleide op stelselvlak – wat gelykheid by die skool verhinder – aan te pak, en om die prestasie van minderbevoorregte leerders wat swak presteer, te verbeter.  

....

Wilna Viljoen van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe oorhandig agt lessenaarrekenaars aan mev Megan St. Clair-Whicker by die Hoër Volkskool Potchefstroom.

Submitted on Mon, 11/22/2021 - 12:58