Die onverwagte en teleurstellende groeisyfers van die bruto binnelandse produk (BBP) vir die derde kwartaal van 2024 bevestig die mate waartoe Suid-Afrika se groeivooruitsigte steeds kwesbaar bly vir negatiewe faktore soos ongunstige weerstoestande, swakker uitvoere en ander remmende faktore.
In sy kommentaar oor die vrystelling deur Statistieke Suid-Afrika van die groeisyfers van die BBP vir die derde kwartaal van 2024 sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die negatiewe ekonomiese en ander faktore in kwartaal 3 van 2024 die positiewes duidelik oorheers het.
“In die mate wat moeilike klimaatstoestande landbou die grootste negatiewe bydraer tot die laer groei gemaak het, is daar potensiaal vir ’n omkeerfase in die toekoms indien weerstoestande gouer eerder as later sou verbeter.”
Hy sê Suid-Afrika se ekonomiese herstel is klaarblyklik stadig en ongelyk. “As ’n mens na die groter prentjie kyk, bevestig hierdie negatiewe groeitendense dus waarom die RNE-beleid om hoër, inklusiewe, arbeidsryke groei te soek die oorheersende prioriteit behoort te bly.”
Volgens prof Parsons is meer totale vaste beleggings in besonder nodig.
“Hoëfrekwensie- ekonomiese data bly gemeng. Die jongste groeidata dui daarop dat die voorspelling van die reeds matige BBP-groei in 2025 en verderaan moontlik hersien moet word. Nietemin, die duidelike boodskap van die BBP-syfers vir kwartaal 3 van 2024 dien om die behoefte vir beide die openbare en privaat sektors te versterk om dringend die implementering van groeivriendelike ekonomiese hervormings te bespoedig.”