Baanbreker Dube skroom vir geen uitdaging nie

Hy sê nooit vir niks “nee” nie. Ooit. Só beskryf diegene wat Rethabile Dube ken dié 25-jarige baanbreker.

In universiteit-volksmond is hy slegs bekend as Dube. Almal ken Dube. Soos Cher, Prince, Drake en Madonna. As Senior Administratiewe Assistent by Gradeplegtighede en Seremonies aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is sy gesig alombekend in Mahikeng, Potchefstroom, Vanderbijlpark en selfs so vêr as Namibië.

Daarbenewens is hy huisvader van die manskoshuis Caput op die Potchefstroomkampus. Nee, ons is nog nie klaar nie. Dube is ook ʼn raadslid van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, waar hy die portefeulje Jeugontwikkeling en Studentebelange behartig. En hy dien op die stadsraad se Gemeenskapveiligheidskomitee. ʼn Mens sidder om te dink hoe sy CV oor ʼn paar dekades gaan lyk.

“Nee, ek weet nie hoe kom ek by alles uit nie!” lag hy. “Dit gaan eintlik net oor goeie beplanning en die span mense wat saam met jou werk en jou ondersteun. Dan is 90% van die dinge in die lewe moontlik.”

Dube is in Rustenburg gebore, waar hy aan die Hoërskool Rustenburg gematrikuleer het. Sy suster het by die Universiteit Stellenbosch gestudeer en hy het gesien dis nie aldag maklik om so vêr van die huis af te wees nie. “Ek het ook ʼn paar vriende gehad wat my oorreed het dat Veritas (manskoshuis) die beste plek is.” Dit is by die einste Veritas waar Dube sy eerste twee jaar by die NWU spandeer het terwyl hy ʼn BCom-graad in Ekonomie en Internasionale Handel voltooi het.

Elkeen van sy take vereis ʼn unieke karaktereienskap en ʼn eiesoortige benadering om ʼn sukses daarvan te maak. Kom ons begin by sy rol as koshuisvader: “Ek het aanvanklik vir ses maande as huisvader van Ratau ingestaan en daarna voltyds by Caput. Dit is fantasties. Dit bring my terug na die studentelewe toe en dit is lekker om saam met die studente te werk.”

In November van 2021 het sy vyfjaartermyn as raadslid afgeskop, en watter vuurdoop was dit nie. “Dit is ʼn groot skok om die groter politieke prentjie te sien. Daar is meer administrasie by betrokke om selfs klein veranderinge aan te bring as wat jy jouself kan verbeel. Daar is baie wanopvattings oor hoe die politieke stelsel werk.”

“Ek wil graag eendag ʼn daadwerklike bydrae tot mense se lewens maak, veral op die gebied van entrepreneurskap. Daar is ʼn gebrek aan inligting wat tot swak finansiële besluite lei. Ek dink veral aan hoe om te werk te gaan om ʼn banklening te kry, hoe om skuld te bestuur en meer. Ek wil daardie vaardighede na mense toe bring.”

Daarom is ʼn MBA in sy visier nadat hy sy Nagraadse Diploma in Bestuur by die NWU se Besigheidskool voltooi het. Sien, langtermynbeplanning is sy ding: “Ek hou nie daarvan om vir vandag se aksie te leef nie, maar vir more se satisfaksie.”

Tog wag daar ʼn groot lewensaanpassing op die horison. Op 2 Julie hak hy die knoop met sy geliefde Elisma in Rustenburg deur.

“Ek is senuweeagtig, maar ook baie opgewonde oor wat vir my en Elisma voorlê.”

Dink maar aan haar, want sy gaan met ʼn paar interessante dieetbehoeftes moet saamleef. Eerstens is daar ʼn onversadigbare soettand: “Sjokolade maak my baie gelukkig.”

Geen warm vloeistof gaan ook oor sy lippe nie, en wat groente en slaai betref, sê Dube dit self die beste: “Ek eet nie bokkos nie!”

 

 .......

Dube en sy geliefde Elisma

Submitted on Thu, 06/23/2022 - 11:03