Andre Fouché is Rugbyinstituut se beste

Sy naam is sinoniem met ongenaakbare verdediging, seepgladde vaardighede en ʼn kanniedood-enjin sonder ʼn trurat. Andre Fouché is ʼn yster wat in die NWU Rugbyinstituut se oond gegiet is en vanjaar het hy die tonge los gespeel.

Tydens die NWU Rugbyinstituut se jaareindfunksie is Fouché as die Rugbyinstituut se Varsitybeker Speler van die Jaar aangewys. Dié kranige losvoorspeler se leierskap, teenwoordigheid op die veld, gevoel vir die spel en eienskappe as spanman is bykomend tot sy fisiese vermoë as speler genoem. Dan het hy ook die Bestuurskild vir uitsonderlikste prestasie van die jaar ingepalm vir sy rol as deel van die Pumas se seëvierende Curriebekerspan.

Fouché was egter nog nie klaar vir die aand nie. Hy is ook met die Johan Claassen-trofee as die Rugbyinstituut se Speler van die Jaar beloon.

Riaan Genis is met die Piet Malan-trofee vir Agterspeler van die Jaar huis toe en is ook as die Spelers se Speler van die Jaar aangewys. Met die bal in die hand is hierdie skrumskakel gevaarliker as om jou huweliksherdenking te vergeet, en hy verdedig soos ʼn tier. Die Voorsitterstrofee as Voorspeler van die Jaar staan op Chris Vermaak se vertoonkas. Sy oneindige energie en sy yslike hart is maar net ʼn paar karaktereienskappe om op te noem.

Hannes Esterhuizen is as Afrigter van die Jaar aangewys vir sy lys prestasies met die Rugbyinstituut se junior spanne, en die Matt Proudfoot-trofee het gegaan aan die eerste rugbyspan, wat die ligawenners was.

...

André Fouché saam met Corrie Rheeder, Kampusdirekteur: Studentelewe

...

André Fouché saam met Sheldon Rostron, Sportbestuurder van die Potchefstroomkampus.

Submitted on Wed, 11/02/2022 - 15:09