Alumnus publiseer openbarende lewensbeskrywing oor geestesgesondheid

Toe dr Kleinjan Redelinghuys, ’n postdoktorale navorsingsgenoot van Optentia en kundige in bedryfsielkunde, onlangs sy boek, Unfiltered: Grappling with mental illness, gepubliseer het, het hy twee doelwitte gestel.

Die eerste was om te skryf oor ’n kant van homself wat mense nog nooit gesien het nie – ’n kwesbare, sukkelende en deurmekaar kant. Die tweede was dat hy ’n boodskap van hoop met die gemeenskap wou deel, hetsy met die angs- en depressielyers, of hulle familie en vriende, of diegene wat in die werkplek met depressielyers te doen kry.

Deur sy debuutwerk laat Kleinjan – wat meer as ’n dekade lank met angs en depressie gesukkel het – die leser toe om ’n geestesiekte “in al sy felheid” vanuit sy eie perspektief te ervaar. “Die titel beskryf my poging om die leser te nooi om angs en depressie deur my oë te sien en om die reis in my skoene te stap,” sê Kleinjan, en verduidelik verder dat hy nie die boek geskryf het om te probeer slim wees nie, maar eerder vanuit ’n rou, eerlike perspektief as iemand by wie aansluiting gevind kan word.

’n Tweesnydende swaard

Volgens Kleinjan het sy lewe met ’n major depressiewe steurnis en die gevolglike chaos van ’n selfmoordpoging sy uitkyk op die lewe drasties verander. Hy erken dat, hoewel dit hom op verskillende maniere uitmergel, dit hom ook in staat stel om die wêreld op ’n ander manier te beskou.

“Ek dink as dit nie vir die depressie was nie, ek nie so begrypend, aanvaardend en tegemoetkomend teenoor ander sou gewees het nie,” sê Kleinjan, en voeg by dat depressie na sy mening ’n tweesnydende swaard is. Aan die een kant gee dit vir hom ’n magdom kennis, ervaring en kreatiwiteit, maar aan die ander kant druk dit hom al hoe nader aan die rand van die afgrond.

Lewer ’n betekenisvolle bydrae

Deur sy oop en eerlike beskrywing van sy reis met angs en depressie verduidelik Kleinjan nie net sy persoonlike stryd met ’n geestesiekte nie, maar beskryf ook die wye impak wat dit op verskillende aspekte van sy lewe het. Dit sluit nie net die sielkundige en emosionele elemente in nie, maar ook die beroeps-, finansiële, fisieke en verhoudingskomponente, om maar net ’n paar te noem.

“Ek het probeer verwoord wat ander depressielyers deurmaak, die uitdagings wat hulle in die gesig staar, hoe hulle voel, en wat hulle dink. Ek kan uit persoonlike ervaring getuig dat daar niks meer vernietigend is as om nie te kan verbaliseer wat dit is wat jou hele wêreld op sy kop keer nie,” sê Kleinjan.

Hy sê dat as sy boek net een ander persoon positief raak, hy sy doel bereik het. “Ek weet ek kan nie die wêreld manalleen verander nie, maar ek kan met ’n enkele kersie ’n vlammetjie aansteek vir diegene wat in die donker rondtas.”

* Kleinjan is ’n alumnus van die NWU se kampus in Vanderbijlpark, waar hy sy BCom, BCom Hons, MCom en PhD in Bedryfsielkunde verwerf het.

 

Dr Kleinjan Redelinghuys.

 

Submitted on Thu, 07/09/2020 - 14:37