Alumni-kantoor gaan eerste Konvokasie-gespreksontbyt aanbied

Die term “alumni” verteenwoordig baie meer as ’n blote titel. Dit is nie net ’n deel van jou verlede nie, maar ook wie jy vandag is. Kortom: dit is ’n lewenslange verhouding met jou alma mater – en in jou geval, die Noordwes-Universiteit (NWU).

Wat ook al by die NWU gebeur, kan ’n invloed op jou kwalifikasie hê, en daarom is julle as alumni, op grond van julle lidmaatskap van die Konvokasie, bemagtig om ’n sê in universiteitsake te hê. Deur by die Konvokasie aan te sluit, speel alumni dus ’n belangrike rol in die versekering dat die gehalte en reputasie van die universiteit gehandhaaf en versterk word.

In die lig van bogenoemde belangrikheid van die Konvokasie, gaan die Alumni-kantoor op die NWU se kampus in Vanderbijlpark op 21 Julie 2017 sy eerste Konvokasie-gespreksontbyt hou. Tydens die ontbytsessie, wat by Books & Beans (die opkampus-koffiewinkel in Gebou 13) sal plaasvind, sal lidmaatskap en die rol van die Konvokasie bespreek word.

Volgens Zanele Ngobese, die kampus se alumni-koördineerder, verteenwoordig die Konvokasie ’n statutêre liggaam van die universiteit en word dus in die universiteit se Statuut as deel van die formele bestuursraamwerk erken. “Lidmaatskap van die Konvokasie kan slegs deur ’n formele aansoek en betaling van die voorgeskrewe fooi van R50 verkry word,” verduidelik Zanele en voeg by dat dit ’n eenmalige aansoek vir lewenslange lidmaatskap is.

Die doel van die Konvokasie is voorts om die welstand van die NWU te bevorder deur sy beeld, tradisies en belange te beskerm en as skakel tussen lede van die Konvokasie en die universiteit te dien. Die Konvokasie word op die Universiteitsraad verteenwoordig en werk ook nóú saam met ander strukture soos die Alumni-vereniging, wat interaksie tussen die universiteit en sy alumni bevorder.

Vir meer inligting oor die Konvokasie, besoek die NWU se webwerf. U kan Zanele by 016 910 3250 kontak of vir haar ’n e-pos stuur by zanele.ngobese@nwu.ac.za

Submitted on Thu, 07/27/2017 - 08:28