Alumni en vriende trek saam vir jaarlikse sakeontbyt

Die jaarlikse Alumni en Vriende Sakeontbyt van die Noordwes-Universiteit (NWU) sal na verwagting op 20 Maart 2020 in Vanderbijlpark plaasvind.

Hierdie funksie bring lede van die NWU-alumnivereniging, akademici, sakelui en gemeenskapslede byeen om skouers te skuur en kwessies soos die Staatsrede, die nasionale begrotingstoespraak, die sukkelende staatsbeheerde organisasies en die ekonomiese realiteit van Jan Publiek te beredeneer. Verskeie kenners sal tydens die geleentheid, ʼn bespreking oor die manier waarop hierdie kwessies die land, op ekonomiese en politieke vlak beïnvloed, lei.

Volgens Zanele Ngobese, alumnikoördineerder op die kampus in Vanderbijlpark, is vanjaar se geleentheid die gevolg van noue samewerking tussen die TRADE-navorsingsfokusarea, die Eenheid vir Voortgesette Onderrig (EVO) en die bhive-Enterprise Development Centre (EDC).

Sy voeg by dat die besigheidsontbyt ‘n platform skep vanwaar konstruktiewe dialoog tussen akademici en die openbare- en privaatsektore kan plaasvind. “Ons alumnigemeenskap verteenwoordig verder ʼn dinamiese groep denkers met jare se ervaring en innoverende denke wat ons in staat sal stel om met tasbare oplossings, wat ʼn positiewe bydrae tot die verbetering van die sosio-ekonomiese toestande in ons land kan lewer, vorendag te kom,” sê Zanele.

Om hierdie geleentheid by te woon, kontak asseblief vir Zanele, per e-pos by zanele.ngobese@nwu.ac.za of telefonies by 016 910 3250 / 083 756 7617. Die funksie sal om 08:00 begin en sal om 11:00 tot ʼn einde kom. Kaartjies beloop R700 vir ‘n tafel met tien gaste, R140 per paartjie of, R70 per person.

 

Submitted on Tue, 03/03/2020 - 14:54