‘n Blink toekoms wag vir slimkop Franco

Franco Bosman is ʼn man met ʼn plan. Tydens die onlangse Toekennings vir Studente-uitnemendheid van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, is Franco aangewys as die beste GR-student in die 2017-derdejaarsgroep, met ‘n gemiddeld van 94%.

As ʼn huidige honneursstudent in dieselfde fakulteit, sien hy uit na die drie jaar wat voorlê waartydens hy spreekwoordelik sal tone natmaak in die water van die wêreld van werk.

Prof Heleen Jansen van Vuuren, direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe, Franco Bosman en prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir strategiese beplanning en bedryf van die kampus in Vanderbijlpark.

Meer oor Franco

Franco het met sewe onderskeidings aan die Hoërskool Dr Malan in Meyerton gematrikuleer. As een van vyf kinders, reken Franco ʼn groot deel van sy sukses is aan sy ma te danke. Sy het verpleegkunde studeer, maar al vyf haar spruite ten minste tot op graad 7-vlak getuisskool. Franco self het tot in graad 9 tuisonderrig ontvang. Sy pa is ʼn predikant in die Afrikaanse Protestantse (AP) Kerk en professor aan die AP Akademie.

Die roete tot hier

Franco sê sy paadjie tot hier was beslis nie sonder harde werk nie. Sy geheim is om elke toets te sien as ʼn geleentheid om sy punte te verbeter, altyd jou huiswerk te doen en nooit die kosbare leergeleentheid van elke klas mis te loop nie. Sy studies hou hom tans baie besig en hy sê hy werk gereeld tot middernag.

Die pad vorentoe

Franco vertel dat sy uiteindelike oogmerk is om vir homself te werk. Hy sien daarom uit na die drie jaar wat op sy honneursjaar sal volg waartydens hy sy prakties by Deloitte sal doen. Sy dienskontrak met hierdie multinasionale maatskappy is reeds in sy eerstejaar as student geteken.

Hy hoop om in sy tyd by die maatskappy kosbare ervaring op te doen en goeie netwerke te bou.

Hy dink eers mooi wanneer hy gevra word watter dosent vir hom die meeste tot dusver beteken het. Hy glimlag as hy vertel van die energie waarmee me Alinka Mostert haar klas aanbied terwyl sy op moederlike wyse in die welstand haar studente belangstel.

Een ding is seker: Franco Bosman het lank en deeglik gedink oor die rigting wat hy in die lewe wil inslaan en soos wat sy studiereis tans vorder, is hy goed op pad om ʼn alumnus met ʼn blink toekoms te word.

Submitted on Mon, 05/07/2018 - 09:56