Die 1%-styging in die werkloosheidvlak in die eerste kwartaal van 2025 veroorsaak verdere kommer oor Suid-Afrika se swak groeiprestasie.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê met die voorspellingsvooruitsig van die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2025 wat deur verskeie instellings en ekonome progressief tot 1,5% en laer verlaag is, is dit nie onverwags dat dit nou deur nog hoër werkloosheidsvlakke weerspieël word nie.
“Die oorkoepelende algehele werkloosheidsvlak is nou waar dit ’n jaar gelede was en veral werkloosheid onder die jeug bly onaanvaarbaar hoog.”
Prof Parsons sê die jongste styging in werkloosheid bevestig weer eens dat ekonomiese groei in Suid-Afrika vir te lank te laag is.
“Daar is geen towerstaffie wat oornag werk kan skep nie, aangesien die teleurstellende werkloosheidsprentjie die kumulatiewe uitkoms van seisoenale, sikliese en strukturele faktore is. Die verswakkende vooruitsig vir werk beklemtoon nietemin weer eens die feit dat die derde Begroting op 21 Mei een moet wees waar groei voorop gestel word.”
Volgens prof Parsons moet die Begroting ’n beleidsomgewing skep wat ekonomiese uitbreiding bevorder en beleggersvertroue vergroot.
Hy sê die Begroting moet aan beleide en projekte gewy word waar die verbintenis van die Regering van Nasionale Eenheid duidelik demonstreer dat daar ten minste 3%- arbeidsryke groei in die BBP oor die medium termyn sal wees.