Welkom by die “hofsaal”! NWU-Juta-Skynverhore keer terug met in-persoonkompetisie

Die gewilde jaarlikse NWU-Juta-Skynverhore-kompetisie is met mening terug, met verlede jaar se virtuele formaat wat hierdie jaar vir ’n in-persoonkompetisie plek maak .

“Ons is baie opgewonde om almal in die skynhofsaal terug te hê,” sê adv René Koraan, direkteur vir Professionele Ontwikkeling en Gemeenskapsbetrokkenheid en senior lektor in die Fakulteit Regte op die Potchefstroomkampus. Sy sê die kompetisie is ’n uitstekende geleentheid vir tweede- en derdejaarstudente om broodnodige ervaring op te doen.

Die kompetisie skop op 28 Julie met kruiskampus-uitdunrondtes af . Die semifinaal is geskeduleer op om 14 Augustus plaas te vind en bou op tot by die opwinding van die finale rondte op 15 Augustus.

René sê hulle is veral opgewonde om regterpresident Ronald Hendricks van die Noordwes Hoë Hof en regter André Petersen te hê om by die finale rondte as voorsittende beamptes op te tree. Die geleentheid sal ook deur dr Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, bygewoon word.

Hierdie baie gewilde kompetisie is ’n hoogtepunt op die gebeureteniskalender van die NWU. As gevolg van Covid-19-beperking is die tiende verjaardag daarvan verlede jaar in ’n virtuele hofsaal gevier.

Verlede jaar se wenners was ’n gekombineerde NWU-span van derdejaarstudente en dit gaan opwindend wees om te sien wie hierdie jaar met die louere gaan wegstap.

Kompetisie bevorder praktiese ervaring

Die NWU-Juta-Skynverhore-kompetisie is die produk van René se visie. Sy het in 2011 met die kompetisie begin, aanvanklik vir die Potchefstroomkampus, maar sedert 2014 het dit tot ’n interkampuskompetisie uitgebrei. Sy het dit as ’n geleentheid beskou vir tweede- en derdejaarstudente om broodnodige ervaring op te doen.

“Die kompetisie sal met sy missie voortgaan om aan regstudente die geleentheid te gee om praktiese ervaring op te doen. Verlede jaar het meer as 140 studente aan die skynverhore deelgeneem.”

Sy sê dat studente gretig is om te leer en ekstra werk te doen, nie net om die kompetisie te wen nie, maar om bekwamer te word. “Ons moet nooit die impak onderskat wat sulke kompetisies en werkswinkels op die ontwikkeling van jong aspirantprokureurs het nie,” sluit sy af.

Vir meer inligting oor hierdie jaar se NWU-Juta-Skynverhore, bel vir René by 018 299 4287.

Submitted on Thu, 07/28/2022 - 14:44