WAITRO 2022: Spesiale belangegroep in Afrika gaan die pad vir voorspoed in Afrika help oopmaak

Die Wêreldvereniging vir Bedryfs- en Tegnologiese Navorsingsorganisasies (World Association of Industrial and Technological Research Organizations, WAITRO) het op Woensdag 16 November tydens sy tweejaarlikse beraad WAITRO se spesiale belangegroep in Afrika, die WAITRO Africa Special Interest Group (SIG), bekendgestel om ’n nuwe era van wêreldwye samewerking in te lui sodat kwessies wat uniek is aan die vasteland hanteer kan word.

Die beraad is gesamentlik deur die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied en het by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes plaasgevind. Die NWU is WAITRO se streeksfokuspunt vir Afrika.

Onder andere sal die SIG ’n platform verskaf om Afrika-deelname aan WAITRO  te koördineer en om sinergieë met ander navorsings- en tegnologie-organisasies (RTO’s) wêreldwyd te skep. Dit sal ook dien om verhoudings tussen RTO’s in Afrika verder te versterk en die samewerking vir bedryfsontwikkeling met ander streke te verbeter.

Die doelwit van die SIG is om dit deur die skepping van vasteland-gefokusde navorsing, innovasie, tegnologie en beleidsbesprekings reg te kry, asook deur opleidingsprogramme vir vaardigheidsontwikkeling onder lede in Afrika te fasiliteer, om maar net ’n paar te noem. 

Daar is ’n totaal van 29 Afrika-instellings wat lede van WAITRO is, en die SIG is onder die tema van Research, innovation and industrialisation for socio-economic impact in Africa bekendgestel.

“Die samestelling en bekendstelling van die WAITRO Afrika SIG verteenwoordig die kulminering van jare lange pogings en voorbereidingswerk wat deur die Afrika RTO’s binne WAITRO gedoen is, en dui die begin van ’n nuwe era van samewerking tussen RTO’s in Afrika aan,” het dr Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, in aanloop tot die gebeurtenis gesê.

Hy het voorts gesê dat die SIG die Afrika-vasteland sal help om groter industrialisasie vir die streek te verkry en ’n bydrae tot die verbetering van die lewens van mense op die vasteland te lewer.

“Dit is ’n oproep tot samewerking, en hoewel dit ten opsigte van talle aspekte vertraag is, sou dit die voormalige president van Ghana, Kwame Nkrumah tevrede gestel het. Hy het in 1963 by die beraad van die Organisasie vir Afrika-eenheid gesê: ‘Ons het te besig geraak om ons eie lande te koester om die basiese behoefte aan ons eenheid ten volle te verstaan – gegrond op ’n gedeelde doelwit, gemeenskaplike beplanning en gesamentlike pogings. ’n Eenheid wat hierdie fundamentele noodsaaklikhede ignoreer, sal niks meer as ’n bedrogspul wees nie. Dit is slegs deur ons produktiewe kapasiteit en die gevolglike produksie te verenig, wat ons kapitaal kan versamel’,” het Tyobeka gesê.

Hy het afgesluit deur te bevestig: “Ons sien daarna uit om die WAITRO Afrika SIG te ondersteun sodat dit sy doelwitte kan bereik.”

waitro

Die NWU se dr Naledi Seheri-Jele saam met dr Paul Burrows van WAITRO se sekretariaat.

Submitted on Thu, 11/17/2022 - 08:17