Waarom ons nie ons vleilande aan hulle lot moet oorlaat nie

’n Gebrek aan ’n bewustheid oor ons vleilande kan katastrofiese gevolge vir Suid-Afrika se biodiversiteit hê. Vleilande speel ’n kritieke rol in die bewaring van biodiversiteit, waterbestuur en die heenkome van gemeenskappe, maar groot landbou-uitbreiding, stedelike ontwikkeling en industriële aktiwiteite beteken dat hierdie noodsaaklike ekostelsels toenemend onder druk is.

Volgens prof Wynand Malherbe van die Waternavorsingsgroep by die Noordwes-Universiteit (NWU), word dringende intervensies vereis om hierdie vernietigende effek te keer.

Om ’n bewustheid te kweek, is dit belangrik om te kyk watter rol vleilande speel.

“As gevolg van die komplekse en gevarieerde habitat wat in hierdie stelsels bestaan, huisves vleilande talle organismesvan. Ons tref soveel plante, diere en mikroörganismes in die verskillende soorte vleilande aan. Benewens die rol wat vleilande ten opsigte van biodiversiteit speel, het hulle ook die funksie om water te filtreer. Aangesien vleilande die vloei van water vertraag, tree dit as ’n goeie filtreerstelsel op wat sediment en talle tipes besoedelstowwe kan vasvang. Vleilande help dus om skoner water vry te stel in stelsels soos riviere en oseane wat stroomaf lê. As ’n natuurlike buffer teen die instroming van water, help vleilande om vloede te beheer, aangesien hulle water kan absorbeer en stoor en so die impak van vloede verminder op gebruikers wat stroomaf is. Die verspreiding van energie stel vleilande ook in staat om erosie te verminder deur die grond en plantegroei te stabiliseer.

“Vleilande is belangrik vir hulle rol in die ekonomie. Talle mense en gemeenskappe maak op vleilande staat om hulle lewensbestaan deur byvoorbeeld visvang of landbou te verseker. Die toerismebedryf maak vir ekotoerisme ook op hierdie pragtige ruimtes in die landskap staat, soos vir mense wat voëls kyk, visvang of foto’s neem. Vleilande speel voorts ’n noodsaaklike rol in koolstofsekwestrasie, wat help om klimaatsverandering te versag, aangesien hulle die grondwater-akwifere aanvul deur water te stoor en dit dan stadig weer in die omgewing vry te stel,” sê Malherbe.

Daar is ’n menigte belangrike rolle wat vleilande speel, en dit is uiters belangrik dat hulle beveilig moet word.

“Die beskerming en bewaring van vleilande is noodsaaklik vir die instandhouding van biodiversiteit, om die dienste van die ekostelsel te onderhou en die welstand van toekomstige geslagte te verseker. Daar is ’n aantal dinge wat ons kan doen om dit reg te kry, en een van die belangrikstes is om gemeenskappe op te voed en ’n bewustheid te kweek van vleilande en die diens wat hulle aan die ekostelsel verskaf. Veldtogte om die publiek van iets bewus te maak, is dikwels baie geslaagd om ’n positiewe verandering in die bestuur van vleilande te bewerkstellig,” verduidelik Malherbe.

“Navorsing oor vleilande, inventarisse oor vleilande en moniteringsprogramme moet tesame met die kweek van ’n bewustheid en opvoeding aangewend word. Gedetailleerde inventarisse van waar vleilande geleë is en hoe hulle funksioneer, is ’n belangrike stap in die bestuur van vleilande. Hierdie inventarisse oor vleilande verskaf dan die basis vir die monitering van veranderings in die gesondheid en funksionaliteit van vleilande. Die waarneming van vleilande verskuif wêreldwyd na gemeenskappe, en bemagtig hulle om eienaarskap van hulle vleilande te neem deur hulle vir toekomstige geslagte te moniteer en bewaar.”

Malherbe beklemtoon voorts die belangrikheid daarvan om volhoubare grondgebruikbestuur te implementeer wat die vernietiging van vleilande vir landboudoeleindes, stedelike ontwikkeling en infrastruktuurprojekte beperk.

“Daar is ook ’n behoefte aan wetgewing en beleidsontwikkeling op plaaslike, nasionale en internasionale vlak om die wettige beskerming van vleilande te verbeter. Die implementeringskonvensies, soos die Ramsar-konvensie, bevorder op internasionale vlak die verstandige gebruik van vleilande wêreldwyd. Die realiteit is dat talle van ons vleilande alreeds versteur en gedegradeer is, en die herstel van vleigebiede is dus belangrik in ons bestuur van vleilande en hulle diens aan die ekostelsel vir toekomstige geslagte.”

Malherbe sê deur ’n kombinasie van strategieë te gebruik, is dit moontlik om vleilande te beskerm en te bewaar, en te verseker dat hierdie noodsaaklike ekostelsels voortgaan om noodsaaklike dienste vir biodiversiteit en die welstand van die mens te verskaf.

Die kritieke belangrikheid van vleilande kan nie ontken word nie, nie net vir biodiversiteit en omgewingsgesondheid nie, maar ook vir ekonomiese ontwikkeling en die welstand van mense. Die voortgaande bedreigings vir hierdie ekostelsels beteken dat dit noodsaaklik is om die beskerming en volhoubare bestuur daarvan te prioritiseer. Ons vleilande is – nog nie – verlore nie.

Submitted on Wed, 02/07/2024 - 15:02