Vyf vroue, vier geslagte, een groot nalatenskap

Vrouemaand is die ideale geleentheid om te kyk na die geweldige vooruitgang wat vroue in die onderwys teweeg gebring het en ’n nalatenskap van akademiese prestasies oor geslagte heen te vier. Watter eer is dit nie om die inspirerende reise van vier geslagte van vroulike gegradueerdes, van wie drie meestersgrade het, te vier nie. Hierdie stories is die bewys van die krag van opvoeding, die belangrikheid daarvan om vroue te bemagtig, en die beduidendheid van die impak wat vroue op toekomstige geslagte kan hê.

Die matriarg van hierdie storie is die oumagrootjie, mev Lena Buitendach (Esterhuizen), wat die sosiale hindernisse oorkom het deur hoër onderwys tydens ’n besonder uitdagende tyd vir vroue na te jaag. Sy het in 1926 haar baccalaureusgraad aan die destydse Transvaalse Universiteitskollege (TUKS) verwerf, waarna ’n lewenslange reis van leer en persoonlike groei gevolg het. Sy het in dieselfde tyd haar onderwysdiploma by die onderwyskollege voltooi en haar vasberadenheid en aanpasbaarheid het werklik die pad oopgemaak vir die nalatenskap van onderwys in haar familie wat oor geslagte heen strek.

Die tweede geslag, oumas Marietjie van den Berg (Bloem) en dr Hannie Schoeman, het ook hulle hoëronderwysstudies aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Mev Van den Berg het haar honneursgraad in Engelse Letterkunde en Geskiedenis verwerf en dr Schoeman haar PhD in Maatskaplike Werk, waarna die Universiteit van Pretoria haar as navorser aan gestel het. Sy was die baanbreker vir speelterapie vir maatskaplike werk in Suid-Afrika en het internasionale erkenning vir haar werk ontvang. Sy het in 2011 by die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe aangesluit en in 2014 afgetree, maar lei op die ouderdom van 76 steeds professionele persone in maatskaplike werk op. Dr Schoeman se sukses was nie net ’n bevestiging vir haar eie loopbaan nie, maar het ook ’n kragtige voorbeeld vir haar dogter, prof Retha Bloem, en haar toekomstige kleinkinders gestel.

As derdegeslag-gegradueerde het prof Retha Bloem in haar moeder en ouma se voetspore in die akademie gevolg toe sy in 1990 ingeval het by die Universiteit van Pretoria, waar sy later haar PhD voltooi het. Sy het die waardes van opvoeding, bemagtiging en leierskap omhels en het besef wat die waarde daarvan is om hierdie nalatenskap aan haar dogter, me Joanette Bloem oor te dra. Me Bloem – dogter van Retha, kleindogter van Marietjie (ouma aan vaderskant) en Hannie (ouma aan moederskant) en agterkleindogter van Ouma Lena – het tydens hierdie Vrouemaand met ’n meestersgraad in Besigheidsbestuur aan die NWU gegradueer.

Die nalatenskap verteenwoordig ’n gees van vasberadenheid en ambisie wat vroue oor geslagte heen gedryf het om struikelblokke te oorkom en na uitnemendheid te streef. Vyf vroue, vier geslagte van bemagtiging en ’n nalatenskap oor geslagte heen in die oordrag van opvoeding, kennis en bemagtiging.

Tydens Nasionale Vrouemaand bring ons lof aan hierdie reis. Ons word ook daaraan herinner dat deurdat ons die opvoeding van vroue waardeer en daarin belê, ons die pad na ’n beter toekoms oopmaak waar vroue kan voortgaan om die vlam van kennis en inspirasie uit te dra en ’n nalatenskap te skep wat daaropvolgende geslagte vroue kan aanmoedig om hulle volle potensiaal te bereik en ’n blywende impak op die samelewing te maak.

....

Opvoeding vir 'n vrou; opvoeding vir 'n nageslag. Van links: Joanette Bloem, Dr Hannie Schoeman en Prof Retha Bloem. In Joanette se hand:  Grootouma Lena Buitendach (Esterhuizen) en in Prof Retha Bloem se hand:Ouma Marietjie van den Berg (Bloem)

 

Submitted on Mon, 08/07/2023 - 15:31