Vra ʼn ekonoom: wat verwag die industrie van my?

As die rol van geld in die wêreld daarbuite jou fassineer, jy ʼn vernuftige probleemoplosser is én ʼn gawe vir analitiese redevoering het, is die kanse redelik goed dat jy vir ʼn BCom-graad in ekonomie ingeskryf is. 

Indien wel, teken die 16de April 2019 in jou dagboek aan en maak seker jy woon die volgende werkswinkel van die geaffilieerde studentevereniging, Think Like an Economist (TLE), op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark by.  

Die studentevereniging – wat aan die Studente Kampusraad (SKR) geaffilieer is – verteenwoordig ʼn groep studente, enig in denke en almal passievol oor die vakgebied van ekonomie en die geleenthede wat dit jong graduandi bied.  

Ter voorbereiding van toekomstige beroepe as landbou ekonome, besigheidsekonome, ekonometrie praktisyns, ekonomiese adviseurs, ekonomies analitiese direkteurs, ekonomiese konsultante, ekonomiese ontwikkelingspesialiste en ekonomiese navorsingsanaliste, bied die TLE gereelde werkswinkels en inligtingsessies wat op studente gemik is, aan.

Op 16 April sal dié studentevereniging vier ekonome vanuit die praktyk verwelkom: Jean-Marc Groenewald van die Reserwe Bank, Busi Sibeko van die Instituut vir Ekonomiese Reg, Shaun Mohlamme van Investec en Solomon Makurube van Standard Bank.  

Die geleentheid sal om 18:00 afskop en die vorm van ʼn vraag-en-antwoord-sessie aanneem. Studente sal aan die eise van die professie en die vaardighede wat nodig is om die praktyk te betree, blootgestel word.  Behalwe vir Busi Sibeko, is al die ander sprekers ook trotse alumni van die universiteit en ook eertydse TLE lede.  

Die geleentheid is oop vir alle lede van die kampusgemeenskap en daar sal geen ingangsfooi wees nie.  Om jou sitplek te reserveer, klik op hierdie skakel of kontak Olivia by selomaolivie@gmail.com.  Onthou om jou naam, van, studente-/personeelnommer, kontakbesonderhede en e-posadres by te voeg indien jy tot die eFundi webtuiste gevoeg wil word.  

Die vorige funksie wat deur die vereniging aangebied was, het deelnemers meer oor ekonomiese pluralisme geleer.  Volgens Michelle Groenewald, dosent in die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe en voog van TLE, was dié aksie ʼn groot sukses wat meer as 30 studente op ʼn Maandagaand verwelkom het om meer oor die verskillende ekonomiese paradigmas te leer.  Besprekings het onder meer gekyk na maniere waarop ideologie op beleidsvoorstelle toegepas kan word om ongelykheid en armoede in Suid-Afrika die hoof te bied.

 

 

Submitted on Wed, 04/10/2019 - 09:20