VPI-syfers dek die tafel vir laer rentekoerse

Met die Julie-statistiek sien ons steeds al hoe beter nuus op die inflasiefront, met ’n beduidende daling in die inflasiekoers vanaf die vlak in Junie.   

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê die jongste (Julie) verbruikersprysindekssyfers (VPI-syfers) bevestig dat inflasie geleidelik afwaarts beweeg en rondom die middelpunt-inflasiemikpunt (4,5%) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) tot rus kom.  

Die syfers is op 21 Augustus deur Statistieke SA vrygestel.  “Hierdie kosteverlagende tendense word verder versterk deur faktore soos die huidige goeie prestasie van die rand en die voortgesette vooruitsig van laer brandstofpryse.”   

Volgens prof Parsons – met kerninflasie nou by 4,3% – is dit die bewys dat Suid-Afrika nader aan ’n lae en stabiele inflasie beweeg indien die huidige tendens voortduur. 

“Laer inflasietendense het vroeër ontwikkel as wat die laaste vergadering van die monetêrebeleidskomitee (MBK) voorspel het. Dit sal nou, in die lig van die groot verbetering op die inflasionêre vooruitsig, moeilik wees vir die MBK om te regverdig waarom die rentekoerse onveranderd gelaat moet word.” 

Prof Parsons sê die tafel is beslis gedek vir ’n aanvanklike verlaging in rentekoerse wanneer die MBK weer volgende maand vergader.  

“Hoewel die koersvermindering op hierdie stadium moontlik slegs 25 basispunte sal wees – en geen toweroplossing vir lae groei nie – kan dit ’n welkome siklus begin om leenkoste vir besighede en verbruikers te verlaag.” 

Submitted on Wed, 08/21/2024 - 16:11