Die verklaring deur die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) op 22 September het te midde van verskeie wêreldwye en plaaslike onsekerhede om verstaanbare redes ’n aggressiewe boodskap oor die inflasievooruitsigte in die ekonomie oorgedra.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die meerderheidsiening was ’n styging van 75 basispunte ten einde inflasieverwagtinge progressief vas te maak. Dit is belangrik dat twee lede van die vyfpersoon-MBK ’n verhoging van 100 basispunte wou gehad het.
“Met die MBK wat van mening is dat inflasierisiko’s besig is om te styg, was dit onvermydelik dat die siklus van rentekoersverhogings nou sal voortgaan.”
Prof Parsons sê dat duurder geld nietemin onvermydelik vir verbruikers en besighede ’n negatiewe impak op leenkoste sal hê op ’n tydstip wanneer die ekonomie sukkel om momentum te behou.
Die SARB is dalk te optimisties oor die toekomstige groeivooruitsigte – en die feit dat negatiewe risiko’s dalk in ieder geval toegeneem het. Die kombinasie van die jongste aanhoudende Eskom-beurtkrag, kumulatief hoër leenkoste en ’n onseker wêreldekonomie vereis nou dat Suid-Afrika sy groeiverwagtinge vir die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2023 op net ongeveer 1,4% moet stel. Dit stem met die SARB se eie huidige voorspelling ooreen.
“Gegewe die klem van die SARB se president, Lesetja Kganyago, op die uitdagings wat voorlê om die monetêre beleid te bepaal wanneer ekonomiese onsekerheid buitengewoon hoog is, sal dit vir die MBK goed wees om vlugvoetig te bly. Soos die president belowe het, is dit onder hierdie omstandighede reg dat die monetêrebeleidstrategie van data afhanklik moet bly, en nie dogmaties moet wees nie. Daar is draaikolke aan weerskante, nie net aan een kant nie.”