’n Onlangse studie wat deur dr Karabo Mohapanele, ’n PhD-gegradueerde in sosiologie van die Noordwes-Universiteit (NWU), uitgevoer is, werp die lig op die noodsaaklike rol van gesinne om kinders se gedrag te beïnvloed en hulle lewens te vorm, en hoe gesinsdinamiek en -struktuur ’n betekenisvolle rol in die voorkoms van straatkinders in Noordwes speel.
Dit is hartseer dat straatkinders wêreldwyd ’n sigbare deel van samelewings vorm, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Hierdie kwesbare kinders – dikwels sonder behoorlike versorging en beskerming – loop in die strate rond en word aan ’n duisternis gevare en risiko’s blootgestel. Die doel van dr Mohapanele se studie is om die onderliggende faktore te ondersoek wat ’n bydrae tot die styging in die getal straatkinders lewer, met ’n fokus op die rol van gesinsdinamika.
Hoewel armoede dikwels as ’n groot bydraende faktor tot die verskynsel van straatkinders genoem word, daag haar navorsing hierdie voorveronderstelling uit. Haar studie toon dat wanfunksionele gesinstrukture net so ’n groot bydrae lewer. Deur die gesinsagtergrond van straatkinders te ontleed, identifiseer die navorsing die vier vernaamste gesinstrukture: enkelouergesinne, kerngesinne, stiefgesinne en uitgebreide gesinne.
Die rol van ouerskapstyle
Onder die belangrike bevindings beklemtoon die studie ook die ouerskapstyle van die ouers.
Faktore soos die ouer-kind-verhouding, dissipline teenoor kinders, behandeling van en leiding aan kinders beïnvloed die kind se besluit om die huis te verlaat en hulle toevlug tot die strate te neem.
“Die navorsing toon dat ouers se werkstatus, geslag en ouderdom ook ’n baie belangrike rol speel om ’n kind se sosialisering en opvoeding te vorm.
“Die implikasies van die studie strek baie verder as bloot om die probleme te identifiseer. Programme om straatkinders met hulle gesinne te herenig, behoort gesinsterapie, mikrofinansiering of sosio-ekonomiese ondersteuning aan ouers en ander hulpbronne in te sluit om te voorkom dat kinders weer na die strate terugkeer,” sê dr Mohapanele.
Die studie vra ook vir die formulering van beleide oor gesinne en kinders in Suid-Afrika, wat ouers kan bemagtig en sterk gesinsbande sal aanmoedig.
“Die skepping van versorgende gesinsomgewings deur doeltreffende ouerskapstyle kan die uitkoms vir en algehele ontwikkeling van kinders grootliks verbeter,” sê sy.
In ’n samelewing wat die hartverskeurende kwessie van straatkinders moet hanteer, laat val hierdie navorsing ’n lig op die noodsaaklike rol van gesinne. Deur die kompleksiteite van gesinsdinamika en die impak daarvan op kinders se lewens te verstaan, kan beleidsmakers en maatskaplike werkers meer doeltreffende intervensies ontwerp om te verhoed dat kinders deur die krake val, en om hoop en stabiliteit binne die omgewing van ’n liefdevolle gesin te vind.
Dr Mohapanele se studie bied ’n stap in die rigting van ’n blinker toekoms vir kwesbare kinders en die gesinne wat aan hulle wêreld vorm gee.
Dr Karabo Mohapanele