Vernon Paulo beur boontoe

Daar is soveel van ’n vasbyter in Vernon Paulo se benadering tot rugby dat dit ’n mens amper bang maak. Dié amper-22-jarige woelgees van ’n haker is op die oorlogspad. Vra maar vir Ikeys se skrumskakel, Asad Moos, wat tydens die Varsitybeker-finaal tussen die Eagles en die Tigers besluit het om die tuisspan se verdediging met ’n fopaangee te toets. Hy het klaaglik misluk. Paulo het hom sonder vrees vir teenkanting met die grond gelyk gemaak. Dan het hy nog ’n aptyt vir drieë ook. Hy het die doellyn ’n ongelooflike 12 keer tydens die toernooi oorgesteek. Vir ’n haker … wat gaan hier aan? Dit is getalle wat by vleuels hoort. Tog, wanneer Paulo op die veld is, is dit ’n slagveld.

Aan die einde van die Eagles se seëvierende veldtog is Paulo, saam met sy spanmaat Gustav Erlank en Shimlas se Lourens Oosthuizen, as een van die kompetisie se algehele Player that Rocks aangewys, en as deel van dieselfde trio is hy as Forward that Rocks benoem.

“Ek kry hoendervleis wanneer ek dink waar ons toernooi begin het en waar dit geëindig het. Almal het hulle deel gedoen en hulle heel beste gelewer. Ons het ons kant gebring soos dit van ons verwag is. Ons het vir mekaar gespeel en ons wou almal trots maak,” sê Paulo.

Die 60 punte wat hy met drieë tot die Eagles se veldtog bygedra het, was die gevolg van een van die talle teikens wat hy vir homself gestel het: “My doelwit was nie om drieë te druk nie – die belangrikste ding was om te wen. Jy kan egter nie wen as jy nie drieë druk nie,” sê hy lakonies. “Ek het baie rugbydoelwitte gehad wat ek sou bereik, en een van hulle was om die beste haker in die Varsitybeker te wees. Dit is waarvoor ek gespeel het en waarna ek gestreef het.”

Dit is egter slegs een deel van die vergelyking wat Paulo onbetwisbaar die beste no 2 in die Varsitybeker gemaak het. “Jy speel vir jou spanmaats. Dit is waaroor die spel gaan. Ons het ook ’n stelsel gehad wat werk. Ons het daardie stelsel aangegryp en daarmee volgehou.”

Ná die Varsitybeker het Paulo by die Potchefstroomgebaseerde Luiperds aangesluit en het ’n kontrak ontvang om vanaf November vir die Cheetahs te speel.

“Ek is opgewonde, maar ek is ook ’n bietjie senuweegtig. Ek is mal oor uitdagings en ek sal die beste van hierdie geleentheid maak. Ek wil graag in die groter professionele opset begin speel. Ek wil ’n Springbok word en ek werk hard om dit reg te kry. Ek glo in myself.”

Van ’n Eagle tot ’n Luiperd tot ’n Cheetah – Vernon Paulo is besig om boontoe te beur.

.......

Kliphard. Vernon Paulo in Luiperds-gewaand.

Submitted on Fri, 06/02/2023 - 14:57