Verandering noodsaak innovasie en groei – prof Linda du Plessis

Radikale verandering is aan die orde van die dag.

So het prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) verantwoordelik vir institusionele beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede, tydens die onlangse NWU Leierskapsberaad in Johannesburg gesê.

As een van die hoofsprekers het sy die leierskapslesse gedeel wat sy geleer het tydens die #FeesMustFall-protesveldtog soos dit in die hoëronderwyssektor plaasgevind het.

“Ek glo wel dat verandering gepaardgaan met ’n soort noodsaaklikheid vir innovasie en groei – en nog meer as ’n mens van radikale verandering praat,” het prof Du Plessis gesê, en bygevoeg dat transformatiewe verandering ’n fundamentele element is van die hantering van die tallose dinge wat in Suid-Afrika verkeerd is.

In haar toespraak het prof Du Plessis verwys na ’n onlangse verslag deur Derek Yu, ’n medeprofessor in Ekonomie aan die Universiteit van die Wes-Kaap, wat beweer dat Suid-Afrika se werkloosheidskoers die afgelope nege jaar reeds voortdurend styg. Die koers neem toe, ten spyte van beleide wat aanvaar word en beloof het om werkloosheid te beperk. Hierdie beleide het die New Growth Path ingesluit, wat in 2011 aanvaar is en die belofte ingehou het om 5 miljoen poste te skep en werkloosheid teen die einde van 2020 tot 15% te verlaag.

“Maar wat het sedert 2011 gebeur? Werkloosheid het met 2,2 miljoen gestyg, wat die getal werkloses op 6,17 miljoen te staan bring. Indien hierdie tendense voortduur, moet die selfs meer ambisieuse doelwit wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) uiteengesit word, naamlik dat die werkloosheidskoers teen 2030 tot 6% moet daal, bevraagteken word,” het sy verduidelik.

Volgens Yu se berekeninge sal 28 000 poste vir die volgende 12 jaar elke maand geskep moet word om die NOP se uitkomste te bereik. Volgens prof Du Plessis noodsaak dit radikale verandering. Sy het ook gesê dat universiteite belangrike belanghebbers is om die gegradueerdes van die toekoms te help vorm, kennis te genereer om die ekonomie te bevorder en volhoubare instellings van die toekoms te word.

Studenteprotes en ’n tydperk van ongeëwenaarde transformasie

Volgens prof Du Plessis het die #FeesMustFall-veldtog nie net oor gelde gegaan nie, maar was ’n oproep om ’n beter toekoms en maatskaplike geregtigheid. Sy het verduidelik hoe universiteite tussen uiterstes vasgevang was: ondersteun die oproep om gratis onderwys en hou terselfdertyd die akademiese projek aan die gang. Beskerming van die universiteit as ’n oop ruimte vir akademiese vryheid, en tog die verlies van infrastruktuur waarvan die opknappingskoste 2 000 studente vir ’n volle akademiese jaar kon befonds het.

Sy het die volgende leierskapslesse uitgelig wat tydens die protessiklus na vore gekom het:

  • Moet nooit vergeet om die groter prentjie te sien nie.
  • Diversiteit: sterk punte lê in verskille, nie in ooreenkomste nie.
  • Nuwe sienings lei na beter resultate.
  • Moet nooit vergeet om te luister nie.
  • Trek ’n streep en neem ’n besluit.
  • Leer die milleniumgeslag ken en vermy stereotipering.
  • Omring jouself met positiewe mense.
  • Nuwe geleenthede word uit elke situasie gebore.
  • Legitimiteit lê in die oë van die kliënt.

Prof Du Plessis het haar aanbieding afgesluit deur die afgevaardigdes te vertel dat dit nou die tyd vir radikale verandering is, en dat Suid-Afrika sy talle uitdagings slegs deur samewerkingspogings deur die samelewing oor die algemeen sal te bowe kom.

 

 

 

 

 

 

Submitted on Fri, 10/12/2018 - 12:27