Universiteite moet meer doen om risiko’s te ondervang

'n Onlangse meningsartikel deur prof Hermien Zaaiman van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus bewys dat voorkoming beter as genesing is. Die artikel word as vereiste leesstof vir alle visekanseliers en risikobestuurders by Suid-Afrikaanse universiteite beskryf, veral in die lig van toenemende intimidasie en gewelddadige ontwrigting van lesings, seminare, praatjies, senaatsittings en raadsvergaderings. Professor Zaaiman is die bestuurder van die ETRB-sentrum vir Toegepaste Risikobestuur. Tydens 'n onderhoud met die aanlyn mediahulpbron, The Conversation, het prof Zaaiman die volgende te sê gehad oor die verkleining van risiko's binne die hoëronderwyssektor.

Die realiteit van risikobestuur aan universiteite

Dit is 'n onbestrede feit dat universiteitsbestuurders hul hande vol het met die hoeveelheid risiko's wat hulle in die gesig staar – hetsy dit personeel- en studenteveiligheid, optogte oor gelde of korporatiewe bestuursake is. As gevolg hiervan beskik meeste universiteite oor risikobestuursbeleide, -spanne en -prosesse. Volgens prof Zaaiman dui navorsing wat deur die ETRB gedoen is daarop dat instellings se formele risikobestuurspogings hoofsaaklik beperk is tot die monitering van reëlmatighede en voldoeningsvereistes soos deur die regering bepaal. Sy gaan voort deur te sê dat daar baie min werklike integrasie van formele risikobestuursbeginsels in daaglikse besluitnemingsprosesse op die verskeie bestuursvlakke plaasvind. Wat betref die identifisering en assessering van risiko's en die aanteken daarvan in 'n risikoregister, is dit gewoonlik 'n oefening wat jaarliks net voor 'n interne oudit en jaarlikse verslagdoening ondergaan word. Professor Zaaiman verwys na sulke risikoregisters as "duur artefakte met geen werklike waarde nie". 'n Risikoregister behoort teoreties 'n lewende dokument te wees wat op 'n volgehoue basis en regdeur die jaar besluitneming by bestuursvergaderings fasiliteer. 

Navorsing is die sleutel tot die onsekerheid wat risiko meebring

“Risiko het met onsekerheid te make; mense sukkel om iets waaroor hulle onseker is te konseptualiseer en te bestuur,” verduidelik prof Zaaiman en voeg by dat die span by ETRB tans besig is met navorsing oor die gebruik van data vanuit risikoverwante nuusberigte om te help met die identifisering en evaluering van risiko's. Aangesien ons as mense sukkel om gebeure wat onsekerheid veroorsaak – en nog nie gebeur het nie – te identifiseer en bestuur, is dit baie makliker om te konsentreer op dít wat reeds besig is om skeef te loop. Hierdie baie menslike beperking bemoeilik die implementering van risikobestuur in alle organisasies.

Volgens prof Zaaiman verskaf navorsing 'n bewysgebaseerde beskouing van risiko wat bestuurders toelaat om uit ander se ondervindings te leer, en dus 'n kollektiewe institusionele geheue te skep. Indien universiteite gewillig is om by hul globale eweknieë te leer en die nuus baie fyn dop te hou, sal hulle risiko's suksesvol en op 'n praktiese en hulpvaardige manier kan verklein.

Beter begrip 'n hulpmiddel tot beter bestuur

In praktyk het oorlaaide universiteitsbestuurspanne baie keer bloot nie die tyd of die hulpbronne om hul risiko-ervarings aktief met ander instellings te deel nie. Prof Zaaiman beskou nuusberigte, wat vrylik op die internet beskikbaar is, as 'n werkbare oplossing. “As deel van ons volgehoue hoëronderwysnavorsingsprojek het ons nuusberigte oor universiteite gebruik om die soorte risiko's waarvoor hoëronderwysinstellings moet beplan, uit te ken,” sê prof Zaaiman en voeg by dat hierdie berigte ook inligting verskaf oor die verwagte gereeldheid van gebeure wat met hierdie risiko's geassosieer word, sowel as oorsake van en response op die gebeure.

“Sodra ons alle berigte oor gebeure versamel het, verbind ons dit met die tipes risiko wat universiteitsbestuurders moet oorweeg wanneer hulle besluite moet neem. Met hierdie inligting tot hul beskikking word belanghebbers bemagtig om spesifieke, risikoverwante vrae oor hul eie instellings te vra.”

Foto: Prof Hermien Zaaiman is die bestuurder van die ETRB-sentrum vir Toegepaste Risikobestuur op die Vanderbijlparkkampus van die NWU.


Prof Hermien Zaaiman is die bestuurder van die ETRB-sentrum vir Toegepaste Risikobestuur op die Vanderbijlparkkampus van die NWU.

 

 

Submitted on Thu, 03/16/2017 - 10:14