Uitspeelrondte net buite bereik van die Eagles

Bertie Jacobs

Dapper poging. ʼn Baie dapper poging, manne. Die Noordwes-Universiteit (NWU) Eagles het só naby daaraan gekom om die Varsitybeker-uitspeelrondte te haal nadat hulle Wits op ’n sopnat Fanie du Toit-sportveld met 31–3 op Maandag 11 April geklop het. Hoewel die tuisspan vyf drieë gedruk en ’n bonuspunt verdien het, is hulle gefnuik deur dit wat net ’n rukkie vroeër in Johannesburg plaasgevind het.

 UJ moes Tuks wen vir die Eagles om ’n kans te staan om na die uitspeelrondte deur te dring, maar Tuks het deurgedruk en ’n 36–19-uitslag afgedwing. Eina! En dit was toe dit. Die Eagles wou wraak neem en was gereed om daardie ander span van Joburg te verwoes. Die fris kaptein, Sampie Swiegers, het twee drieë gedruk, met Theunis Pretorius, Tino Swanepoel en Pienaar van Niekerk wat elkeen een bygedra het. Martin Venter het twee doelskoppe bygevoeg.

Dit was ’n bittersoet einde vir die Eagles se veldtog. Ná ’n paar aanvanklike glipse het hulle koers gehou en ’n paar noemenswaardige oorwinnings behaal. ’n Laagtepunt was hulle 35–14-verlies teen UJ in Johannesburg – waar is ’n UJ-oorwinning as jy dit nodig het?  – maar hulle het met 17–8 teen Tuks gewen en ’n vasberade Shimlas-span met 32–22 getroef. Van die Shimlas gepraat, hulle het boaan die punteleer geëindig, gevolg deur Ikeys, Maties en Tuks. Die topdrie spanne het elk sewe oorwinnings uit nege wedstryde gehad, terwyl Tuks en die Eagles, wat in die vyfde plek was, elkeen met ses oorwinnings kon spog. Tuks het met 30 punte op die log geëindig en die Eagles op 29. Maties het Ikeys 58-19 in die eerste halfeindstryd geklop waarna Tuks ietwat van ʼn moeiliker tyd gehad het om Shimlas 29-21 stof in die gesig te skop. Die eindstryd sal dus tussen Maties en Tuks Maandag 25 April op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch beslis word. 

Kom ons kyk na ’n paar positiewe dinge. Dit is altyd moeilik om ná ’n toernooi een speler uit te sonder, maar noem my maar ’n partydige liefhebber van arende: agtsteman André Fouché het homself sekerlik as ’n absolute staatmaker bewys. Watter fonds is hy nie? Sampie Swiegers moet ook geloof word vir die manier waarop hy sy span gelei het. O, terloops, hy was Maandag die Player that Rocks. Die span het as ’n eenheid hope karakter en emmers vol daadkrag getoon.  

....

Foto: Asem Engage/Barco Greeff

Submitted on Tue, 04/19/2022 - 12:17