Twee sentrums om akademiese uitnemendheid te bevorder, word bekendgestel

Die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het op Vrydag 20 Oktober die Sentrum vir Professionele Ontwikkeling vir Hoër Onderwys (CHEPD), en die Sentrum vir Afrikataalonderrig (CALT) – Tswana bekendgestel.

Vooraanstaande sprekers en vername gaste, geklee in ’n verskeidenheid kulturele Afrikadrag, het by die pragtige Roots Café in Potchefstroom opgedaag om die bekendstelling van die twee sentrums te vier.

Terwyl die CHEPD ’n onderrig-leer-sentrum is wat daarop fokus om van akademici professionele hoëronderwysonderwysers te maak, is die CALT ’n navorsings-, onderrig- en leersentrum met ’n fokus op en toewyding aan die bevordering, gebruik en ontwikkeling van Tswana as een van Suid-Afrika se amptelike tale.

Volgens dr Dolly Dlavane, direkteur van die CALT en ’n raadslid van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), is dit die heel eerste sentrum vir Afrikataalonderrig met ’n spesiale fokus op die uitbou van geletterdheidsonderrig en -leer van Tswana in Tswana.

“Ons staan by die geboorte van hoop vir die onderrig, ontwikkeling en gebruik van Tswana, wat in die geheel die bewaring van ons Tswana-taal is.”

Die direkteur van die CHEPD en Nasionale Navorsingstigting-gegradeerde (NNS-gegradeerde) navorser by Hoëronderwysstudies, prof Emmanuel Mgqwashu, het die kerndoelstelling van die CHEPD beklemtoon en gesê daar is ’n fokus op die professionalisering van onderwysers in hoër onderwys vir ’n deelnemende akademie.

“Om dit te bereik, sal die CHEPD die ontwikkeling en aanbieding van geakkrediteerde formele en gestruktureerde akademiese programme bestuur om geleenthede aan te vul vir voortdurende professionele ontwikkeling (CPD) wat deur die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) aangebied word.”

Prof Willie van Vollenhoven, hoofdirekteur van die SOL, sê: “Die bekendstelling van die CHEPD verteenwoordig die bekendstelling van ’n aanvullende sentrum. Die sentrum sal goeie samewerking tussen die SOL en die Fakulteit Opvoedkunde verbeter, en verseker dat akademici van die NWU ondersteun word in hulle reaksie op die opdrag dat ’n 21ste-eeuse hoëronderwyskonteks gedekoloniseer en getransformeer moet word.”

Chrissie Boughey, emiritus professor in Hoëronderwysstudies by Rhodes Universiteit en buitengewone professor by die Universiteit Stellenbosch, het genoem dat “taal” en “opvoeding” twee verskynsels is wat baie dikwels as vanselfsprekend beskou word.

“Almal word aan ‘opvoeding’ blootgestel en praat ’n ‘taal’, en daarom het die gewone idees en veronderstellings oor albei vir talle studente in hoër onderwys ’n nadelige invloed op opvoedkundige prestasie.”

Prof Boughey het voorts gesê dat die daarstelling van die twee sentrums hoop gee, aangesien albei beloof om navorsing te doen en formele kwalifikasies te lewer. Hierdie kwalifikasies sal die stereotipiese ingesteldhede teenoor taal en opvoeding uitdaag wat dekades lank ’n nadelige uitwerking ten opsigte van gelykheid in onderwys in Suid-Afrika gehad het.

Dr Barney Mthembu, wat namens die Departement van Basiese Onderwys (DBO) gepraat het, het gesê dat die NWU met die bekendstelling van die CALT op die regte pad is.

“Die DBO wil studente aanmoedig en in staat stel om die taal te gebruik wat hulle die beste verstaan is, en ons voel geëerd dat ons dieselfde doelstellings as die NWU het.”

Mnr Lance Schultz, die hoof- uitvoerende beampte van PanSAT, het die belangrikheid van inheemsetaalonderrig vir inklusiwiteit, hoëkwaliteitonderrig en ’n verbeterde akademiese prestasie verduidelik. Hy sê die CALT sal ’n wonderlike geleentheid bied om navorsingsgebaseerde metodes te integreer by die opleiding en ontwikkeling van onderwysers wat in die grondslag- en intermediêre fase in Afrikatale onderrig gee.

“Ons doel is om studente te help om hulle tale optimaal te gebruik om hulle kennis in die kurrikulum in te bring,” sê prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, wat die universiteit se siening oor elkeen van hierdie sentrums weergegee het.

Prof Maryna Reyneke, die adjunkdekaan vir Onderrig en Leer, het in haar slotwoorde namens die Fakulteit Opvoedkunde gesê dat dit ’n voorreg vir die fakulteit was om hierdie twee sentrums bekend te stel.

Volgens prof Reyneke was die belangrikste kenmerk van die bekendstelling dat dit twee verwante aspekte van pedagogie na vore laat kom het: Afrikataalonderrig en die professionele ontwikkeling van onderwysers in hoër onderwys.

’n Meer betekenisvolle stap na die praktiese erkenning van Afrikatale vir ons nasie sal spoedig deur die samewerking van hierdie twee sentrums geneem word.

Klik asseblief op die skakels hieronder om meer oor die twee sentrums uit te vind:

CALT: https://education.nwu.ac.za/faculty-education/centre-african-language-t…

CHEPD: https://education.nwu.ac.za/centre-higher-education-professional-develo…

...

Prof Emmanuel Mgqwashu stel CHPED bekend.

....

Dr Dolly Dlavane bespreek die visie en missie van CALT.  

...

Van links is prof Maryna Reyneke, prof Elma Marais, dr Anita Lubbe, prof Lloyd Conley, dr Dolly Dlavane, prof Kotie Kaiser, prof Emanuel Mgwashu and dr Elize Kung

Submitted on Wed, 11/01/2023 - 09:24