TTIS ondersoek sonkraginnovasie by Enel Green Power se sonkragaanleg in die Noord-Kaap

deur Vukosi Mathale

Die span van Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuning (TTIS) by die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs as deel van voortgesette pogings om innovasie- en bedryfsvennootskappe te ondersteun, ’n groep akademiese personeellede wat in sonkragenergieverwante projekte spesialiseer op ’n opwindende toer na Enel Green Power se Adams-sonkragaanleg in Kathu in die Noord-Kaap geneem. 

Hierdie sonkragaanleg, wat in 2017 in bedryf gestel is, bestaan uit ’n see van 611 100 panele en is ’n wonderlike voorbeeld van die produksie van hernubare energie in Suid-Afrika. Die Adams-sonkragaanleg het ’n indrukwekkende produksiekapasiteit van 82,5 MW, wat dit een van Suid-Afrika se grootste sonkrag-nutsmaatskappye maak. Dit gebruik dunfilm-PV-tegnologie om ’n massiewe 170 000 GWh van elektrisiteit elke jaar op te wek – genoeg om 53 000 huishoudings te elektrifiseer!  Enel verkoop sy elektrisiteit kragtens ’n kragkoopooreenkoms van 20 jaar aan Eskom.

Die NWU-span is by die aanleg ontvang en rondgeneem deur mnr Maxwell Sibanyoni, bedryfs- en instandhoudingsaanlegtoesighouer by die Adam-aanleg, wat deur sy bedryfs- en instandhoudingspan ondersteun is. Die span het tydens die besoek die geleentheid gehad om die binnewerking van die aanleg te verken deur elemente soos die sonpaneelopstelling, slimstringkaste pre-parallelle kaste, wisselrigters, transformators en die substasie te ondersoek. Hierdie waarneming van die produksieproses het vir al die deelnemers ’n waardevolle leergeleentheid verskaf, en vir hulle ’n beter begrip gegee van sonkragtegnologie en die toepassing daarvan op ’n industriële skaal. Dit het ook insig verskaf in die bedryfs- en instandhoudingsuitdagings wat voorkom wanneer sulke geriewe in afgeleë en droë plekke soos Kathu bedryf moet word.

Dr Mesuli Mbanjwa, die Kommersialisasiebestuurder by TTIS, het sy waardering vir die geleentheid en die hartlike ontvangs teenoor Enel Green Power uitgespreek. “Die besoek aan die Adams-sonkragaanleg het aan ons ’n waardevolle leerervaring gebied,” sê dr Mbanjwa.  “Ons is dankbaar vir die geleentheid om hierdie baanbrekertegnologie te ervaar wat ons energievolhoubaarheid in stand hou.  Ons is opgewonde oor die vooruitsig om in die toekoms met Enel Green Power aan volhoubaarheid en billike oorgangsprojekte te werk.”

“Dit was werklik vervullend om die geleentheid te hê om ons bedrywighede en tegnologie aan die span van die NWU te toon,” het die aanlegtoesighouer by Enel Green Power se Adams-sonkragaanleg gesê.  “Hulle entoesiasme en nuuskierigheid het die belangrikheid daarvan beklemtoon dat die akademie en die bedryf saam werk om innovasie in die hernubare-energiesektor te bevorder.  Ons sien daarna uit om ook in die toekoms met die NWU saam te werk.”

Die besoek het nie net daaroor gegaan om te sien hoe sonkragenergie tans werk nie. Dit was ook oor die voorbereiding vir verdere opwindende projekte in die toekoms. Wanneer universiteite en ondernemings so saam werk, kan ongelooflike dinge in hernubare energie gebeur.

Pic 1

Mnr Thapelo Thamaga, hooftegnikus, me Tlotlo Lefenya, laboratoriumtegnikus, me Abigail Phori, dosent (Fisika), en dr Mesuli Mbanjwa, Kommersialisasiebestuurder.

Pic 2

Die NWU-span saam met die bedryfs- en instandhoudingspan van Enel Green Power by die Adams-sonkragaanleg. 

3

Dr Mesuli Mbanjwa, Kommersialisasiebestuurder, me Abigail Phori, dosent (Fisika), mnr Thapelo Thamaga, hooftegnikus, me Tlotlo Lefenya, laboratoriumtegnikus, en mnr Vukosi Mathale, spesialis in Tegnologiebemarking..

Submitted on Fri, 07/19/2024 - 09:40