Tien NWU Eagles op pad na Mauritius

Jy het albei hande hiervoor nodig. Tien – tel hulle – tien Noordwes-Universiteit (NWU) Eagles van die NWU se atletiekklub is ingesluit by die Suid-Afrikaanse span wat gaan deelneem aan die CAA Afrika Kampioenskap wat van 8 tot 12 Junie in Mauritius gehou gaan word.

 Dit is benewens die langafstandhardloper Elroy Gelant, wat ’n personeellid van die NWU is, maar nie ’n lid van die atletiekklub nie.

In totaal gaan 89 Suid-Afrikaanse atlete in aksie wees op die eiland in die Indiese Oseaan, wat die grootste groep van die Republiek tot op hede is.  

Die atlete is Tamzin Thomas (200 m en 4x100 m), Marissa Swanepoel (20 km resiesstap), Joné Kruger (verspring), Karmen Fouché (verspring), Riette Heyns (diskus), Marga Cumming (hamergooi), Jo-Ané van Dyk (spiesgooi), Valco van Wyk (paalspring), Alan Cumming (hamergooi) en Johann Grobler (spiesgooi).

“Ek dink ons gaan beslis ’n klomp medaljes in die hande van Suid-Afrikaners sien,” sê Terseus Liebenberg, waarnemende atletiekbestuurder op die Potchefstroomkampus van die NWU. Liebenberg het aan die einde van 2021 afgetree, maar bly aan as afrigter vir ’n groot groep NWU-atlete, en ook as atletiekbestuurder totdat sy pos gevul is.  

“Ons verwag taai kompetisie. Atletiek in Afrika is uiters gesond en daar is sterk nasies wat deelneem, soos Nigerië, Marokko, Ethiopië, Algerië en Egipte, om maar net ’n paar te noem.  Dit is ’n vasteland van topatletiek met van die wêreld se beste atlete.  Die atletiekklub en die NWU is ongelooflik trots op elke atleet wat Suid-Afrika gaan verteenwoordig. Hulle is ware ambassadeurs van die NWU,” sê Liebenberg.

Submitted on Mon, 05/30/2022 - 16:21