Thokozane vorder in werklikheidsreeks

Thokozane Zulu is ’n man met ’n plan. Hierdie finalejaarstudent in Openbare Bestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het sy visier op die parlement ingestel, en as sy onlangse prestasie in die SABC se werklikheidsreeks, One Day Leader, ’n aanduiding hiervan is, gaan sy droom beslis waar word.

Thokozane het in die uitdunningsrondtes meer as 900 aansoekers uitgestof om vir homself ’n plek in die top-30 los te slaan. Hoewel hy nie die finale top-6 gehaal het nie, werk hy alreeds aan sy aansoek vir volgende jaar se weergawe van die reeks.

Hy slyp tans aan sy leierskapsvaardighede deur aktief aan die studentebestuur op die kampus deel te neem. Hy is ’n huiskomiteelid van die Longfellow-afkampuskoshuis, ’n lid van die kampus se regsraad, en ’n voormalige uitvoerende lid van die Geskiedenisvereniging.

Vir Thokozane is ervaring noodsaaklik vir leierskapsontwikkeling en daarom gebruik hy al die geleenthede en uitdagings wat oor sy pad kom. Nadat hy sy hoërskoolloopbaan voltooi het, het hy voor ’n kruispad te staan gekom: hy wou sy lewenslange droom bewaarheid om as politieke leier sy gemeenskap te dien, maar hy het nie die finansiële middele gehad om verder te studeer nie. Hy het toe by ’n welbekende kitskosgroep begin werk en begin om geld te spaar om sy registrasiegeld by die universiteit te betaal.  

Hy onthou hierdie tyd in sy lewe as “uitdagend” en vertel hoe hy by verskeie geleenthede deur sy bestuurder beledig is. “Ek onthou dat ek vir my bestuurder gesê het dat hy my nie daarvan gaan afsit om my droom te verwesenlik nie, en dat hy moontlik vandag my bestuurder kan wees, maar dat ek eendag sy president gaan wees,” sê Thokozane.  

Gedurende daardie tyd het hy die waardevolle leierskapsles van deursettingsvermoë geleer, en vandag is dit sy boodskap aan alle ander jongmense. “Ontbering bou ’n mens se karakter en berei jou vir groter dinge voor. As ’n leier moet jy gefokus bly en in jouself glo.”

Meer oor One Day Leader

One Day Leader is ’n televisiereeks waarin ses jongmense hulle leierskapsvaardighede toon deur eietydse Suid-Afrikaanse maatskaplike, ekonomiese en politieke kwessies te takel in ’n poging om vir die gesogte titel mee te ding. Die reeks vertel die storie van die ontwikkeling van hierdie ses jongmense vanaf gewone jongmense tot gewillige, invloedryke, aanspreeklike, bedagsame, berekende en dapper visionêre – die verpersoonliking van die toekomstige jong leiers van ons land.


 
Thokozane Zulu.

Submitted on Fri, 02/14/2020 - 09:34