Thami Manzi – die hoof van die township se kleinhandelbedryf

Thami Manzi is ’n man met ambisie en ’n duidelike visie. Hierdie alumnus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het sy stempel afgedruk as suksesvolle en selfgemaakte entrepreneur wat iets weet van terugploeg, en wie se florerende sakeondernemings werkgeleenthede vir mense in sy gemeenskap skep.

Hy spog met meer as 18 jaar ervaring in die kleinhandelverbruikersbedryf. Hy het as straatsmous begin deur deli-produkte aan die gemeenskap van die Vaal, suid van Johannesburg, te verkoop. Hy het ’n ver pad gekom en onthou sy nederige begin en die talle mense wat ’n rol in sy sukses gespeel het.  

Sy harde werk en deursettingsvermoë, tesame met sy onwrikbare sin vir sy visie, het vir hom nuwe horisonne geopen sodat hy sy kleinhandelonderneming, Ola Superstores, kon sien en ’n unieke vennootskap met die kleinhandelkettingwinkel Pick n Pay kon sluit. Die kern van die vennootskap was om ’n eerste voldiens Market Store daar te stel wat ’n volle produkreeks bied en beduidende en volhoubare werkgeleenthede vir die plaaslike jeug skep. Thami se goeie sin vir maatskaplike bewustheid laat hom in sy gemeenskap en die breër gemeenskap terugploeg. Hy dien op die direksie van die Bophelong Tutorial Programme (BTP), ’n niewinsgewende organisasie (NRO) wat met skole in die Bophelong-township skakel om gehalte-onderwys deur intervensie en ondersteuningsprogramme aan te moedig. Hulle bied winterkampe en ekstra klasse oor naweke vir graad 11s en 12s aan en fokus op wiskunde, fisiese wetenskap, rekeningkunde en engels.

Thami het in 2013 die Global Business Roundtable se Global Chairperson or the Year-toekenning vir leierskapsuitnemendheid ontvang. Hy het talle ander toekennings ontvang, insluitende die Township Entrepreneur-toekenning van die Gautengse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, en Khanyisa-toekennings vir diensuitnemendheid van die Gautengse Departement van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling.

Thami is passievol oor plaaslike ekonomiese ontwikkeling en hy gebruik sy akademiese opvoeding – hy het ’n BCom-graad in Besigheidsonderneming aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark verwerf – ten volle. Hy het in 2008 die plaaslike ondernemingsontwikkelinginisiatief van die Mpumelelo-sakekern in Bophelong gewen. Dié sakekern het meer as 24 KSO’s geskep en aan die gang gekry.

Die NWU het Thami in Oktober 2017 vir sy sakevernuf en uitnemendheid vereer.

Jy kan na ’n kort video oor Thami se prestasie kyk wat vir die NWU Alumni-toekennings van 2017 voorberei is deur hier te klik.

 

 

 

Submitted on Wed, 02/14/2018 - 10:35