Tekkies en spanwerk – NWU stap vir geestesgesondheid

Die toestand van Suid-Afrika se geestesgesondheid laat veel te wense oor. Statistiek van die South African Depression and Anxiety Group skat dat nagenoeg een in ses Suid-Afrikaners aan angs, depressie of middelverslawing ly. Hierdie statistiek sluit nie ernstiger toestande soos bipolêre gemoedsversteuring en skisofrenie in nie.

Teen hierdie agtergrond sal die alumni-kantoor en die gesondheidsorgsentrum op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark op Saterdag, 16 Maart 2019 ‘n pretloop aanbied om bewustheid oor geestesgesondheid te skep.

Volgens Zanele Ngobese, alumnikoördineerder, sal die pretloop lede van die alumnigemeenskap, huidige studente en lede van die gemeenskap byeen bring om die boodskap van hoop en ondersteuning te versprei.

Kampusklinikus, Mapeete Rasoaisi, meen geestesgesondheid is reeds te lank onder ‘n dekmantel van stigma versteek. Hierdie samewerking onder lede van die kampusgemeenskap hoop om meer lig op die kwessie te werp.

“Inaggenome die erns en impak wat geestesgesondheiduitdagings op individue, gesinne en gemeenskappe kan hê, is dit belangrik vir die samelewing om in geestesgesondheid en welstand te belê,” sê Mapeete. Sy voeg by dat die 10 km pretloop, wat oop is vir die publiek, die bemagtiging wat saam met aktiewe ondersteuningsnetwerke kom, simboliseer.

Sy verduidelik verder dat geesteswelstand fundamenteel tot die lewenskwaliteit en produktiwiteit van individue, gesinne en gemeenskappe is. Die NWU – as ‘n integrale deel van die Vanderbijlparkgemeenskap – is toegewy daaraan om mense te bemagtig om die lewe as bydraende en aktiewe burgers, te ervaar.

Meer oor die pretloop

Die 10 km pretloop begin om 05:30 by die kampus se joolplaas langs die Vaalrivier. Die staproete sal deelnemers deur die kampus na Hendrik van Eckboulevard en links in Louis Trichardboulevard na die Emerald Casino neem. Die einde van die pretloop wag dan weer op die kampus via die casino perseel. Die eerste 100 deelnemers sal medaljes as aandenking van hulle deelname ontvang.

Die koste van registrasie beloop R50, geregistreerde universiteitstudente betaal R20. Deelnemers kan registrasiegelde op die dag betaal, of kan vooraf registreer deur Julia du Plooy by 016 910 3163 / julia.duplooy@nwu.ac.za of Zanele Ngobese by 016 910 3250 / zanele.ngobese@nwu.ac.za te kontak.

 

 

Submitted on Thu, 03/14/2019 - 14:19