Suid-Afrika se presidentsvrou woon NWU-gradeplegtigheid by

“Ons mense moet vaardighede aanleer en hulself opvoed. Dit is die enigste manier hoe ons internasionaal kan kompeteer, ons regmatige rol op ons kontinent kan inneem en ons mense sal ophef.”

Só sê die presidentsvrou van Suid-Afrika, dr Tshepo Motsepe, wat onlangs een van die gradeplegtighede van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark bygewoon het.

Hier is prof Dan Kgwadi, visekanselier, dr Tshepo Motsepe, presidentsvrou, prof Marlene Verhoef, registrateur, en prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede.

 

Dr Motsepe is getroud met die president van die Republiek van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, en is by vele onderrig-inisiatiewe betrokke, wat die Cyril Ramaphosa Education Trust insluit.

Een van die begunstigdes van dié trust, Zanele Khumalo, het haar Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) op hierdie dag ontvang. Dr Motsepe was in die gehoor om haar as die trust se nuutste graduandus te ondersteun.

Die presidentsvrou het gesê kwaliteitonderrig is die enigste manier hoe enigiemand ‘n bydraende lid van die gemeenskap kan word. Sy glo veral graduandi het ‘n belangrike rol te speel in die skepping van werk om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat groei en armoede uit te wis.

“Inaggenome die strategiese ligging van die land en die rol daarvan as ekonomiese middelpunt op die kontinent, speel Suid-Afrika ‘n groot rol in die toekoms van Afrika,” het dr Motsepe gesê. Sy het bygevoeg dat die vierde industriële revolusie uitdagings van sy eie bring en dat Suid-Afrika dit nie kan bekostig om agter te bly nie.

Ná die formaliteite het dr Motsepe met afgevaardigdes en gaste gesels en weereens beklemtoon hoe trots sy op Zanele se prestasie is.

 

 

 

Submitted on Thu, 05/02/2019 - 15:30