“Die waterskeidings- 15de BRICS-beraad wat in Johannesburg plaasgevind het, het – tot sy krediet – verskeie lopies op die telbord gehad teen die tyd dat dit verlede week tot ’n einde gekom het.”
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool, sê hoewel die uitkomste noodwendig ’n ingewikkelde mengsel van politiek, ekonomie en besigheid was, die algehele BRICS-profiel en -agenda tot ’n volgende vlak geneem is.
“BRICS wil sy invloedsfeer in die wêreldekonomie uitbrei. Daarom, benewens die verkryging van ses nuwe lede – Argentinië, Iran, Saoedi-Arabië, Egipte, Ethiopië en die VAE – dui die breë aspirasiedoelwitte en besluite van die beraad ’n potensiële nuwe tydvak vir BRICS in die jare wat voorlê aan.”
Prof Parsons wys daarop dat wat die uitbreiding van BRICS betref, daar baie onsekerheid is oor wat die kriteria was wat gebruik is om die addisionele lede te kies. “Die ekonomiese rasionaal vir die keuses is nie voor die hand liggend nie. Dit lyk asof die BRICS-konsensus oor die sestal nuwe lede uiteraard die gevolg van hewige politieke ruilery tydens die verrigtinge van die beraad was, wat waarskynlik politieke kontroversie gaan aanwakker.”
Trouens, hy sê dat so ’n vergrote BRICS-groep van 11 lede inderdaad waarskynlik ’n ander samewerkende mengsel as die huidige vyf lede van BRICS gaan oplewer, met besluite wat deur konsensus bereik sal moet word.
“Agter al die hoofopskrifte gaan daar egter nou ernstige tegniese werk gedoen moet word om die ekonomiese diversifisering en herkalibrering te laat plaasvind wat deur die BRICS-beraadverklaring in die vooruitsig gestel word. Die retoriek moet nou in realiteit oorgaan. Die tempo van vordering kan wel op ’n geleidelike basis bepaal word in verskillende tegniese forums, wat onder die radar is, maar dit is noodsaaklik om die gaping tussen simbolisme en substansie te verklein.”
Volgens prof Parsons bly dit ’n groot uitdaging vir enige wêreldgroep vandag om die balans tussen legitimiteit en doeltreffendheid te verkry.
Hy sê benewens geopolitieke oorwegings, die BRICS-beraad oor die algemeen as ’n waardevolle bemagtiger en fasiliteerder van nuwe handels- en beleggingsgeleenthede beskou kan word, vir beide die bestaande BRICS-lede asook die nuwelinge wanneer hulle aan die begin van 2024 aan boord kom.
“Wat van belang is, is dat die eerste dag van die beraad in sy geheel aan die sakesektor gewy is, en die netwerkeffek en positiewe gevolge daarvan kan nie onderskat word nie – veral aangesien dit verskeie besigheidsnetwerke moontlik gemaak het om gebiede van algemene ekonomiese belang en/of onmiddellike transaksionele waarde te ondersoek.”
Ook aan die positiewe kant is dat die vooruitsig om meer in die plaaslike geldeenheid te kan uitleen moontlik meer te doen het met goeie aanspreeklikheidsbestuur as met “de-dollarisasie”. En in die mate waarin die jongste BRICS-ontwikkelings ten doel het om ware multilateralisme in die wêreldekonomie te bevorder, moet dit in ’n positiewe lig beskou word.
“As ’n beter balans in die wêreldekonomie egter bereik moet word, moet die fokus op die skepping van handel wees, en nie die wegkeer daarvan nie. Wen-wen-uitkomste moet deel vorm van die narratief van multilateralisme, hoewel die besluite nog geneem moet word oor presies wat gaan gebeur en hoe hierdie uitkomste moet lyk.”
Waar staan Suid-Afrika nou ná die afloop van die beraad? Hoe kan Suid-Afrika meer strategies in ooreenstemming met sy nasionale belange deelneem? Hoe maksimaliseer Suid-Afrika die geleenthede en minimaliseer die risiko’s?
Indien, soos president Cyril Ramaphosa beklemtoon het, Suid-Afrika se buitelandse beleid daar is om nasionale belange te dien, wat is ’n paar van die toetse wat Suid-Afrika nou moet aanwend om vas te stel hoe goed ons in die veranderende BRICS-landskap gaan vaar?
Prof Parsons identifiseer sewe toetse:
• As ’n klein ekonomie in die nou vergrote BRICS, sal Suid-Afrika die nodige stappe doen om dit moontlik te maak om “in ’n hoër gewigskategorie te boks”?
• Sal deelname aan ’n BRICS met ’n nuwe voorkoms help om Suid-Afrika se sleutel- ekonomiese belange elders in die wêreld te bevorder?
• Hoewel ’n gemeenskaplike geldeenheid vir BRICS nou met reg op die lange baan is, sal Suid-Afrika verseker dat BRICS se doel om handel in plaaslike geldeenhede uit te brei tot voordeel van die rand is?
• Sal die uitbreiding van handelsbetrekkinge binne BRICS veredeling of waardetoevoegingsuitkomste binne die Suid-Afrikaanse ekonomie fasiliteer?
• Sal Suid-Afrika sy deelname aan ’n groter en meer aktiewe BRICS met sy nuwe verbintenisse onder die Afrika- kontinentale vryehandelsgebied-ooreenkoms (AfCFTA-ooreenkoms) kan versoen?
• Sal Suid-Afrika die nodige hervormings aan sy binnelandse beleid en projekte onderneem om te verseker dat dit mededingend genoeg is om nuwe geleenthede te ontgin wat uit ’n groter, swaarder BRICS voortspruit?
• Met dié dat Suid-Afrika in samewerking met ander ’n geslaagde BRICS-gebeurtenis aangebied het, kan die regering en besighede uitbrei en hulle vennootskap versterk om Suid-Afrika se ekonomiese prestasie op ander vlakke te verbeter?
Prof Parsons verduidelik dat met die son wat oor die 15de BRICS-beraad gesak het, Suid-Afrika ’n gedugte uitdaging tegemoet gaan: om te help om die besluite wat by die beraad geneem is in realiteit om te skakel, terwyl hulle ook verseker dat hulle die voertuig vir progressiewe ekonomiese winste vir die land gaan word. Suid-Afrika sal veral ’n oomblik moet stilstaan en ernstig bespreek wat gedoen moet word om sy aandeel aan die BRICS-handels- en beleggingsinvloei te vergroot.
“Met BRICS se geopolitieke dinamika wat gaan verander, gaan daar ook van Suid-Afrika vereis word om opnuut hulle strategie te bepaal om te verseker dat nasionale belange inderdaad beskerm word, aangesien gebeure (wat gereeld buite sy beheer is) voortgaan om in die wêreldekonomie te ontvou.”