Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dat die besluit deur die Monetêre Beleidskomitee (MBK) om weer eens die rentekoers onveranderd te laat op die vlak wat dit sedert Junie 2020 is, wyd te wagte was.
“Dit is in ooreenstemming met markverwagtings. Dit lyk nie of die MBK haastig is om rentekoerse te verhoog nie, ten spyte van die projeksie deur sy kwartaallikse projeksiemodel dat ’n 25-punte-verhoging nou ingestel moet word.”
Prof Parsons sê dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) tereg geoordeel het dat dit nodig is om vir eers eerder stabiliteit en geloofwaardigheid op ’n lae vlak van leenkoste te voorsien.
“Soos die SARB se president in reaksie op ’n vraag gesê het: ‘Die SARB kan nie sy besluite aan ’n model uitkontrakteer nie’.”
Volgens Prof Parsons het die MBK se jongste verwagtings vir groei en gemiddelde inflasie positief gebly, maar baie hang steeds af van ’n geslaagde implementering van die inentingprogram en of ’n derde golf van infeksie dalk tot hernude inperkings kan lei.
“In die lig van die huidige balans van risiko’s in die ekonomie, bly die saak om die leenkoste vir so lank as moontlik laag te hou, dus sterk. Selfs ’n klein voortydige styging in rentekoerse kan wat steeds ’n kwesbare ekonomiese herstel is, in gevaar stel en moet vermy word vir so lank as wat die omstandighede dit toelaat.”
Hy sê die monetêre beleid kan nie vir die ekonomiese groei verantwoordelik gemaak word nie. “Die vernaamste aandrywers van mediumtermyngroei sal steeds moet kom van infrastruktuurprojekte, die bestendige implementering van die nodige ekonomiese hervormings, fiskale volhoubaarheid, en die verskaffing van energiesekerheid nou eerder as later.”
Prof Parsons sluit af dat die huidige ekonomiese “herstel” aktief in volgehoue langertermyn- arbeidsryke groei omgeskakel moet word. “Wat Suid-Afrika nou oorkoepelend nodig het, is goedkoop geld en verstandige besteding.”