Suid-Afrika sal in die lig van die Trump-oorwinning sy ekonomiese diplomasie moet herdefinieer

Die deurslaggewende en besliste uitkoms van die geskiedkundige verkiesing in die Verenigde State (VSA) om beheer van die Withuis en die Kongres het omvattende implikasies vir die VSA se ekonomie asook vir die res van die wêreld.

In sy kommentaar oor die uitkoms van die kritieke 2024 VSA-verkiesing sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die Amerikaanse kieserskorps hulle stemme laat geld het.  

“Die groot fokus van verkose president Trump sal grootliks op die VSA se ekonomie wees. Hoewel die beslissende Amerikaanse verkiesingsmandaat politieke sekerheid binne die VSA versterk het, het dit die ongestadigdheid en onsekerheid van die markte oral anders verhoog, insluitend onder die opkomende ekonomieë.”

Prof Parsons wys daarop dat die VSA se finansiële markte en die dollar onmiddellik ná die afloop van die Amerikaanse verkiesing versterk het, maar dat die rand byvoorbeeld alreeds verswak het. In die huidige wêreldwye ekonomiese vooruitsig kan beleidsonsekerheid uiteindelik die oorhand oor politieke kontinuïteit kry.   

“Politieke retoriek sal uiteindelik in beleidsuitkomste omgeskakel word, soos groter proteksionisme deur die Trump-administrasie volgende jaar. Onder die meer tasbare onmiddellike beleidsverbintenisse deur ’n Trump-presidentskap is ’n algemene tariefheffing deur die VSA van 20% op alle invoere en tot soveel as 60% op Chinese invoere. As ’n klein oop ekonomie het Suid-Afrika ’n gevestigde belang in die multilaterale handelstelsel.”

Die groter risiko’s vir Suid-Afrika se oorkoepelende uitvoere oor die algemeen, en ook of dit uiteindelik die belastingvrye voordele van AGOA in die besonder sal raak, is die vraag wat vir die Suid-Afrikaanse ekonomie ten opsigte van ’n Trump-oorwinning en die vooruitsig van hoër proteksionisme van belang is.  

“In die lig van die jongste Amerikaanse politieke veranderings sal Suid-Afrika dus sy ekonomiese diplomasie met die VSA moet herdefinieer op maniere wat die basiese gedeelde ekonomiese belange sal beveilig wat ons steeds met Amerika het, ongeag politieke veranderings daar.”

Volgens prof Parsons is dit ook ingebed in die onlangse beroep deur voormalige president Thabo Mbeki dat Suid-Afrika sy buitelandse beleid moet aanpas in die lig van die groot verskuiwing in geopolitiese tendense in die algemeen.  

“Nietemin, ongeag die uitkoms van buitelande verkiesings, moet Suid-Afrika se Regering van Nasionale Eenheid (RNE) voortgaan om die implementering van die regte binnelandse beleide, wat nodig is om Suid-Afrika se ekonomiese aanpasbaarheid te bou, te prioritiseer.  

“Die manier om ’n teenwig vir enige nadelige eksterne tendense te kry, is om te verseker dat Suid-Afrika se ekonomiese huis in orde is sodat hoër inklusiewe groei behaal kan word.”

Submitted on Thu, 11/07/2024 - 09:21