Dit was toe nog nie die nadraai van die storm nie. Die reën stort nog steeds neer, maar Suid-Afrika se ekonomiese skip moet in die rigting van verlore welvaart gestuur word. In hierdie tweede deel van die reeks artikels kyk prof Raymond Parsons van die Besigheidskool aan die Noordwes-Universiteit (NWU) na die wyse waarop die inperkingsmaatreëls die ekonomie beïnvloed het.
Namate ’n gevoel van “normaliteit” – en die woord word hier in sy mees verdunde vorm gebruik – teruggekeer het toe inperkings vanaf vlak 5 van die staat van inperking verslap is, het die ekonomie geleidelik begin herstel.
“Hoëfrekwensiedata in die tweede helfte van die jaar het bevestig dat, namate die ekonomie stadig weer aan die gang gekom het, herstel op pad was. Sakebedrywighede het stadig teruggekeer na iets wat as normaal kon deurgaan. Die sake- sowel as verbruikersvertroue het geleidelik begin herstel. Dit is egter steeds waarskynlik dat BBP-groei vir 2020 rondom ongeveer -7% tot -8% sal wees, terwyl die negatiewe faktore steeds daar is en die konsolidering van beter ekonomiese tendense nog nie plaasgevind het nie. Wat lê vir ons voor?” vra prof Parsons.
“Die ekonomiese nuus is nie alles sleg nie. Op grond van ’n paar positiewe aannames oor die ekonomiese vooruitsig, kan Suid-Afrika steeds verwag om te sien dat die BBP-groeikoers in 2021 na ongeveer 3% sal herstel. Met inflasie wat onderdruk sal rentekoerse waarskynlik langer laag bly. Onder die ander ligpunte op die Suid-Afrikaanse ekonomiese horison vir 2021 is die goeie prestasie van die landbousektor en sekere kommoditeitsuitvoere, wat albei sal help om groei in 2021 in ’n positiewe landskap te laat inbeweeg. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se jongste kwartaalbulletin voorspel ook ’n herstel in persoonlike besteebare inkomste en verbruiksbesteding in kwartaal 2 van 2021, wat die ekonomiese oplewing in 2021 kan steun.”
Die pad is wel meer gelyk, maar dit gaan nog nie klopdisselboom nie.
“Die Suid-Afrikaanse ekonomie is nog glad nie buite gevaar nie. ’n Verbetering van die ekonomie is steeds net ’n verbetering, en die algemene vooruitsig bly beslis onseker. Die meeste van die bestaande ekonomiese ondersteuningsmaatreëls het aan die einde van 2020 verval. Die terugkeer, sonder waarskuwing, na aangepaste vlak 3-beperkings in reaksie op die tweede golf infeksies sal tot nuwe sektorale verliese lei in ’n tyd waar vorige hulpmaatreëls nie langer van toepassing is nie. Alles hang nou af van die vertroue waarmee die huidige voorspellings gemaak word en die waarskynlikheid dat die beste voorspellings moontlik baie verkeerd kan wees. ’n Mens gaan dus in 2021 senuwees van staal nodig hê,” waarsku prof Parsons.
“In ieder geval, die ekonomie gaan vir ’n geruime tyd nie na sy prepandemiese uitsetvlakke terugkeer nie en ’n volle ekonomiese herstel gaan waarskynlik tot 2022/2023 nie realiseer nie, selfs met die positiefste groeivooruitsigte wat voorspel word. Die tempo waarteen dit gaan plaasvind, hang nie net van Suid-Afrika se basiese ekonomiese aanpasbaarheid af nie, maar ook van watter beleidstappe in 2021 geneem gaan word om die verwagte ekonomiese herstel in die jare wat voorlê in volhoubare groei te omskep. Suid-Afrika staar hierdie jaar ’n dubbele uitdaging in die gesig, om die Covid-19-uitbrekings onder bedwang te bring en te bestuur, terwyl beleide en projekte terselfdertyd geïmplementeer moet word om inklusiewe groei te bevorder,” sê Parsons.
Prof Parsons sluit af deur die belangrikheid te beklemtoon van die land se vermoë om verder as die pandemie te kyk.
“Groeikoerse was vir te lank te laag, en die land het alreeds versuim om die doelwitte van sy Nasionale Ontwikkelingsplan te bereik. Beleidshervorming en noodsaaklike infrastruktuurprojekte moes alreeds aan die gang gekom het, selfs voor die pandemie.”
In die volgende deel van die reeks kyk prof Parsons na hoe die staatsrede en Februarie se Begroting geloofwaardigheid moet bou, en ook na ’n paar moeilike besluite wat die regering gaan moet neem.