Studie beklemtoon die verband tussen vetsug en akademiese prestasie

Terwyl die meeste mense bewus is van die gesondheidsrisiko's wat verband hou met kinders wat oorgewig of vetsugtig is, weet hulle nie van die akademiese gevolge wat met hierdie toestande saamgaan nie.

Deidré van Staden, wat haar meestersgraad aan die Noordwes-Universiteit (NWU) behaal het, het ’n studie gedoen waarin sy ondersoek het hoe vetsug, oorgewig, groeibelemmering en uittering by kinders hulle akademiese prestasie in wiskunde, taal, lees en skryf beïnvloed.

Die titel van haar studie was “A longitudinal study on the effect of overweight, obesity, stunting and wasting on academic performance of primary school boys: the NW-CHILD study”, en dit is onder studieleiding van medeprofessor prof Dané Coetzee en dosent Wilmarié du Plessis van die NWU se Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap uitgevoer.

Die deelnemers aan die studie was laerskoolseuns van Noordwes. Deidré het hulle prestasie van 2010 af gevolg toe hulle in graad 1 was, tot in 2016 toe hulle in graad 7 was.

Akademiese prestasie word beïnvloed

Die doel van die studie was tweeledig. Eerstens was dit daarop gemik om, met inagneming van sosio-ekonomiese status (SES), vas te stel wat die effek op akademiese prestasie is as ’n kind oorgewig en vetsugtig is. Tweedens het dit vasgestel watter invloed groeibelemmering en uittering op akademiese prestasie het.

Die studie het bevind dat die deelnemers se liggaamsmassa-indeks (BMI), groeibelemmering en uittering van 2010 tot 2016 toegeneem het. Daar was in die meeste van die skoolvakke ’n klein tot groot effek wat betrekking gehad het op die verband tussen BMI en akademiese prestasie, behalwe vir Afrikaans in 2013.

Oor die sewejaartydperk is daar gevind dat groeibelemmering en uittering ’n effek op akademiese prestasie gehad het, veral wat wiskunde en taalvakke betref.

Luister na 'n klankgreep van van Deidré.

Deidré, wat tans haar eie kinderkinetika-praktyk in KwaZulu-Natal het, sê dat hierdie studie vir die Departement van Basiese Onderwys, skole, onderwysers en gesondheidsorgkundiges van belang is.

Sy voeg by dat haar navorsing die ontwikkeling van intervensieprogramme vir die betrokke leerders tot gevolg gehad het.

Deidré van Standen
Deidré van Staden het haar meestersgraadstudie uitgevoer oor hoe vetsug, oorgewig, groeibelemmering en uittering by kinders hulle akademiese prestasie in wiskunde, taal, lees en skryf beïnvloed.

 

Submitted on Tue, 03/16/2021 - 14:20