Studente by ongemaklike gesprekke oor ras betrokke

Deur Sandile Mahlangu

Die Noordwes-Universiteit (NWU) vier jaarliks Facing Race Week gedurende die derde week van Julie.

Facing Race Week word gewoonlik gevier om te help om ’n leergeleentheid te skep en ’n bewustheid oor die diversiteit van die universiteit te bevorder, en oor hoe alle mense saam met mekaar kan leef. Die Potchefstroomkampus-studente het deelgeneem deur van 17 tot 19 Julie ’n drie dae lange veldtog te hou waartydens hulle mekaar ingelig het, by mekaar geleer het en met mekaar omgegaan het.

Die drie dae lange veldtog het aktiwiteite soos die studentespektrum ingesluit, waar ’n groep studente byeengekom het en kritiese vrae gevra het wat gesprekke aangemoedig het. ’n Paar van die vrae wat gevra is, het die volgende ingesluit:

Kan rassisme afgeleer word?

Is daar iets soos rassegelykheid en -inklusiwiteit?

Maak jou ras dit vir jou moeilik om in Suid-Afrika te woon?

As deel van die veldtog het studente ’n fliek genaamd You People gekyk. Volgens een van die studente-organiseerders en die voorsitter van die NWU-vereniging vir Menslike, Sosiale en Politieke Wetenskappe (HSPS), Kamogelo Ntsoeng, was dit perfek, aangesien dit studente toegelaat het om van moeilike gesprekke oor ras weg te beweeg, maar waar daar steeds ruimte vir gesprek was.

“Ons wou gehad het dit moet ontspannend wees en dit tog moontlik maak om hartlik by mekaar betrokke te wees, en so ons boodskap oor te dra. Die fliek wat vertoon is, het gewys dat hoewel ons uit verskillende agtergronde kom en van verskillende rasse is, ons steeds met mekaar oor die weg kan kom, hoewel dit tyd sal neem om daarby uit te kom,” sê Kamogelo.

Hulle het op die laaste dag ’n paneelbespreking gehou waaraan ’n paar studente soos Keletso Gaborone, die ondervoorsitter van die HSPS-vereniging, MK Robinson van NWU Pride, Ronelle Ngema en Laurize van der Merwe, deelgeneem het.

Die paneelbespreking het ook kritiese besprekings oor ras ingesluit, wat volgens een van die studente wat dit bygewoon het, Lyle Brown*, hulle gehelp het om sekere faktore oor ras en die verskillende stereotipes te leer en ook af te leer.

“Dit is belangrik om besef wat ons geleer het oor verskillende rasse wat ons by ons universiteit het, en ook om iets weer af te leer. Ras gaan nie net oor swart en wit nie – hier is ook bruin mense en Indiërs. Dit is belangrik vir ons as studente om by ’n punt te kom waar besprekings oor ras nie as taboe-gesprekke beskou word nie, maar as ’n geleentheid waar ons iets by mekaar kan leer. Dit is nie nodig dat iemand aanstoot neem wanneer hulle inligting ontvang nie,” sê die student.

’n Ander student, Shimi Mthombeni*, het gesê dat ’n veilige ruimte geskep is vir elkeen om oor hulle ervarings te praat, wat ’n gesprek moontlik gemaak het.

“Ongemaklike gesprekke is nooit maklik nie, maar ons leer terwyl ons groei, en met die omgewing wat regdeur die veldtog geskep is, kon ons dit regkry,” sê Shimi.

Shimi en Lyle het albei gesê dat hulle baie uit die veldtog geleer het, en dat hulle wens dat die universiteit meer dikwels en vir ’n langer tydperk sulke geleenthede kan aanbied, aangesien kwessies oor ras kompleks is.

*Nie hulle regte name nie

.....

Studente neem deel aan een van die sessies wat gesprekke oor kritiese vrae aangemoedig het.

 

Submitted on Thu, 07/27/2023 - 07:40