Studente en gemeenskap vat hande om ekonomiese ontwikkeling te steun

Die skep van ’n beter gemeenskap vereis spanwerk, vennootskappe en samewerking, met ’n groot groep ondersteuners wat saamwerk om ’n beter toekoms te bou. Volgens prof Danie Meyer, senior lektor in ekonomie op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, is dit die doel van die vennootskap tussen die NWU, die Vaal Local Economic Development (LED) Warriors en die gemeenskap van Sharpeville.

Danie is een van die stigterslede van die Vaal LED Warriors, ’n gemeenskapsgebaseerde groep wat gestig is om die ekonomie van die Vanderbijlpark weer nuwe lewe te gee, en is ook die projekkoördineerder van AppLED, ’n navorsingsinisiatief binne die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum. Hierdie twee groeperings het kragte saamgesnoer met die Sharpeville-gemeenskap en sake-organisasies om ’n plaaslike ekonomiese-ontwikkelingsplan vir Sharpeville, die bekende township tussen Vanderbijlpark en Vereeniging, te  formuleer en uit te voer.

Al die honneursstudente in ekonomie op die kampus neem as deel van hulle navorsingsmodule aan hierdie loodsprojek deel. Danie sê dat Sharpeville gekies is as gevolg van die township se ikoniese internasionale kulturele en geskiedkundige status, sy strategiese posisie in die Vanderbijlparkstreek en sy dinamiese en lewendige sosio-ekonomiese omgewing.

Agt-stap-plan vir ontwikkeling

Die honneursstudente sal die voorgestelde ontwikkelingsplan vir Sharpeville met die ondersteuning van hulle ekonomie-dosente, gemeenskapsleiers en die verskillende sakekamers en plaaslike regeringsvennote finaliseer. Die oorkoepelende ontwikkelingsplan bestaan uit agt subplanne om die volgende te ontwikkel:

  • Hoofstraatgebied
  • Toerisme en bemarking
  • Plaaslike kuns en handwerk
  • Dhlomo-dam
  • Dienslewering en gemeenskapsgeriewe
  • Stedelike landbou
  • Kleinsakeondernemings en werkskepping
  • Bedrywe en vervaardiging  

 

“Die oorkoepelende visie van die ontwikkelingsplan is om nuwe lewe in Sharpeville te blaas, met ’n fokus op sosio-ekonomiese opheffing en ontwikkeling. Sharpeville is ’n internasionaal-erkende stad en het ’n bemarkbare handelsmerk,” verduidelik Danie.

Vordering tot dusver

Tydens die eerste semester het die studente die agt subplanne geïdentifiseer en aan ’n implementeringsplan gewerk wat hulle in die tweede semester aan die gang sal kry.

Dit sal as die City of Sharpeville 2020 Development Plan bekend staan en sal aan die einde van Julie met al die belanghebbers, insluitende die regering, sake-organisasies en plaaslike gemeenskappe, aangebied word. Werkswinkels sal ook gehou word.  

Vir meer inligting kontak vir Danie by daniel.meyer@nwu.ac.za.


Prof Danie Meyer.

Submitted on Tue, 08/29/2017 - 15:13