Daar is steeds baie onafgehandelde sake op die nasionale agenda, insluitende ’n meer samehangende oorkoepelende ekonomiese plan vir baie groter inklusiewe arbeidsryke groei.
In sy kommentaar op die 2024-staatsrede, wys prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, daarop dat, soos dit te wagte was, daar voor die 2024-verkiesing onvermydelik ’n hoofsaaklik partypolitieke verklaring by die staatsrede was, en ook oor die prestasies wat die regering oor die dekades bereik het.
“Daar was nietemin uiters bekende eienskappe van die omvattende toespraak wat kritiese evaluering vereis oor of sekere uitkomste in werklikheid gerealiseer het of nie.”
Hy sê die staatsrede het erken hoe belangrik dit is om oplossings in samewerking met die sakesektor en burgerlike samelewing te bespoedig om ernstige deurlopende struikelblokke te oorkom wat steeds die land se ekonomiese prestasie verswak. In die besonder bly die hoogste prioriteit die vennootskap met besighede om die omvattende probleme van energie, logistiek en misdaad en korrupsie op te los.
“’n Groot deel van die ekonomiese veerkragtigheid in Suid-Afrika het nietemin tot dusver duidelik getoon dat dit grootliks te danke is aan die positiewe betrokkenheid en toewyding van die privaat sektor dat openbare dienslewering bespoedig is.”
Prof Parsons sê dat, die breë verwagtings van die staatsrede daar gelaat, die moeilike finansiële werklikhede en probleme in die Begroting op 21 Februarie steeds daar is. Fiskale ruimte het nou merkbaar gekrimp. ’n Sterk kombinasie van swak groei, stygende skuld en oormatige besteding hou ernstige risiko’s vir die fiskale vooruitsig in. In die lig van die onopgeloste fiskale swakhede wat duidelik in die Mediumtermynbegroting in November 2023 na vore gekom het, sal dit vir die Hoofbegroting later hierdie maand ’n moeilike teiken wees.
“Die 2024/25-begroting moet tasbare uitkomste in die vooruitsig stel wat geloofwaardigheid bou teen ’n agtergrond waarin fiskale teikens deurgaans nie behaal is nie. Suid-Afrika is alreeds by die uiterste grense van wat redelik gedoen kan word om sy skuldlas te tem en sy staatsfinansies te stabiliseer. Dit is waar die groot uitdaging in die nadraai van die staatsrede en vir Suid-Afrika se toekomstige risikopremie nou lê.”