Skoolhoofde in die Noord-Kaap gaan by unieke diploma baat

Die Fakulteit Opvoedkunde van die Noordwes-Universiteit (NWU) is gekies as die voorkeurverskaffer vir die aanbieding van ’n unieke Gevorderde Diploma in Opvoedkunde vir skoolleiers in die Noord-Kaap.

Die Skool vir Professionele Studies in Onderwys in die fakulteit het in 2020 met die SOIC-gemeenskapsontwikkelingtrust in Sishen onderhandel om ’n vennoot in die opleiding van skoolleiers in hierdie provinsie te word.

Die Gevorderde Diploma in Opvoedkunde, wat fokus op onderwysleierskap en -bestuur, is ’n pasgeregistreerde kwalifikasie wat vir die eerste keer aangebied word. Dit is nasionaal ontwikkel en is ’n professionele en intreevlakkwalifikasie vir skoolhoofde, soos dit in die Suid-Afrikaanse Standaard vir Prinsipaalskap beoog word.

Prof Lloyd Conley, die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, sê hy is baie opgewonde oor die program en sien uit na die impak wat dit op skole in die Noord-Kaap sal hê.  

Hy sê het dat dit die proefbekendstelling van die gevorderde diploma is, en dat die deelnemers uit die John Taolo Gaetsewe Distriksmunisipaliteit (vroeër bekend as Kgalagadi), die Tsantsabane Munisipaliteit (die voormalige Postmasburg), en die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit baanbrekerswerk doen.

Die induksie van die eerste studente het van 28 tot 30 April 2021 in Kathu plaasgevind, waartydens elke student ’n skootrekenaar en maandelikse data ontvang het, en ’n bekendstellingsessie met hulle dosente bygewoon het.

Aangesien dit ’n webgebaseerde program is, is hierdie rekenaars ’n noodsaaklike instrument vir die sukses van die deelnemers.

“Ons moedig deelnemers aan om die rekenaars nie net vir hulle studies te gebruik nie, maar om ook die skoolervaring van die leerders in hulle skole te verryk. Dit is gedurende hierdie uitdagende tye van die Covid-19-pandemie dat onderwysers afstandsonderwys moet gebruik, en die instrumente sal ’n kritieke deel van die onderrigervaring wees,” sê prof Conley.

Prof Conley en drie dosente van die Skool vir Professionele Studies in Onderwys, prof Jan Heystek, dr Molly Fuller en dr Arrie van Wyk, het die sessies bygewoon om die studente aan die akademiese en navorsingskant van die program bekend te stel. Prof Conley het ook die deelnemers verwelkom en hulle vir hul tweejaarreis saam met die NWU gemotiveer.

Hy sê hulle het hard gewerk om die gevorderde diploma te ontwikkel, veral wat betref die huidige uitdagings van die Covid-19-pandemie, en die feit dat al die studente voltydse skoolhoofde is.

Die program is ’n 120-kredietkwalifikasie en word volgens ’n vervlegdeleerbenadering oor twee jaar (2021 en 2022) aangebied. Dit bestaan uit agt modules, en volg ook ’n sosiokulturele benadering tot leer en akademiese geletterdheid. Hierdie benadering is gegrond in ’n begrip van leer as ’n sosiale praktyk wat ingebed is in die konteks waar ’n mens leef en werk (die kulturele).

Prof Conley gee erkenning aan die rol wat die SOIC-gemeenskapsontwikkelingtrust en die Noord-Kaapse Departement van Basiese Onderwys in die sukses van die studente speel. Die NWU het in 2020 die befondsing van die trust ontvang, en die fakulteit is bly dat die trust die strategie vir opvoeding, opleiding en vaardigheidsontwikkeling ondersteun, en sodoende onderwysers se professionele leer prioritiseer om bestuurs- en leierskapskapasiteit in hierdie gemeenskappe te bevorder.

Hy sê hierdie professionele kwalifikasie het ten doel om skoolleiers te bemagtig om hulle skole doeltreffend en strategies te transformeer.

“Die program vereis dat studente tegnologie en navorsing inkorporeer om te verseker dat die programme wat hulle aanbied met die gebruik van tegnologie in onderwys belyn is, en dat leerders vir die uitdagings van 4IR voorberei word. Ons glo dat hierdie intervensie sal help om studente voor te berei om waardige burgers van ons land te word en in die wêreldwye mark te kan meeding.”

........

 Skoolhoofde neem deel aan die werkswinkel in Kathu.

........

Van links is prof Lloyd Conley, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, en die dosente wat die gevorderde diploma aanbied – prof Jan Heystek, dr Molly Fuller en dr Arrie van Wyk.

Submitted on Fri, 05/14/2021 - 10:54