Shaun Bownes trap nou NWU-spore

Hy is ’n legende wat die rekordboeke herskryf het. ʼn Kanniedood-spoedvraat wat tot in sy laat 30’s sy talent op die wêreldverhoog uitgestal het. Shaun Bownes, die Afrika-kontinent se voormalige hekkieskampioen, is uit graniet gekerf.

Hy kon miskien nie vir die beseringspook of vir vader tyd weghardloop nie, maar die vet weet, hy het probeer. Dáái poenskop van hom was ʼn konstante op ons televisieskerms.

Bownes is tans ʼn naelloopafrigter by die Noordwes-Universiteit (NWU) en dit is ʼn werk wat hy terdeë geniet. Om sy ervaring en kennis te deel, is sy passie en hy vertel met groot genot hoe hy deesdae deur sy atlete se prestasies leef. Een van die atlete wat by sy mentorskap baat vind, is Liezl Gouws. Sy het as vyfjarige serebrale verlamming opgedoen en kan nie uitgepraat raak oor die invloed wat hy die afgelope paar jaar op haar loopbaan gehad het nie.

Bownes het in 2002 in Manchester, Engeland goud by die Statebondspele gewen nadat hy in 1998 brons by die Statebondspele in Kuala Lumpur, Maleisië verower het. Sy groot nalatenskap is egter waarskynlik sy vertoningslys by die Afrikakampioenskap. In 1998 in Dakar, Senegal, en in 2002 in Radés, Tunisië, het Bownes albei keer met goud weggestap. In 2004 in Brazzaville, die Republiek van die Kongo, het hy ʼn silwermedalje ingepalm.

Een van die 51-jarige (hy word op 24 Oktober 52) Bownes se trotse prestasies is sy 60-meter- binnenshuise Afrikarekord van 7,25 sekondes wat steeds staan. Op die rype ouderdom van 43 het hy in 2014 in Boedapest, Hongarye, goud in die 60 m by die Wêreld Meesters- Binnenshuise Atletiekkampioenskap gewen.

Volgens hom is een van die belangrikste resepte vir ʼn atleet se sukses om ʼn balans in hulle lewens te handhaaf. Hy het hard gewerk, maar hy het ook seker gemaak dat hy die lewe geniet. Dit is ʼn filosofie wat hy by sy atlete probeer inboesem en, as daar na sy trofeëkas gekyk word, is dit moeilik om met hom te stry.

...

Shaun het vanjaar as afrigter saam met die Suid-Afrikaanse Statebondspelespan na Birmingham, Engeland toe getoer. Hier is hy saam met een van die NWU se spogatlete, Liezl Gouws.

Submitted on Fri, 10/14/2022 - 14:14