Sharpeville 2020: aksienavorsing inspireer verandering ten goede

Meer as 55 jaar na die Sharpeville-slagting bloei die township steeds, en die jeug ly onder die gevolge daarvan. So sê prof Danie Meyer, medeprofessor in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark. 

Danie staan aan die hoof van die Sharpeville 2020-ontwikkelingsplanintervensie, wat daarop gemik is om Sharpeville se ekonomie te vernuwe.

Hy het net die regte kwalifikasies vir die taak. As die koördineerder van die AppLED-navorsingsinisiatief in die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe en die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) weet hy presies wat gedoen moet word om ’n strategiese plaaslike ekonomiese ontwikkelingsplan (PEO-plan) te formuleer en implementeer deur toegepaste navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid te gebruik.

Die Sharpeville-slagting het in 1960 plaasgevind, en sedertdien word die township deur werkloosheid, sosio-ekonomiese agterstande en snelle verstedeliking geteister. Die Sharpeville 2020-ontwikkelingsplan is ’n daadwerklike poging om hierdie nasionale erfenisterrein, geleë tussen die industriële stede van Vanderbijlpark en Vereeniging in suid-Gauteng, te vernuwe.

Ruk die ekonomie reg
Volgens hierdie plan doen honneursstudente van die vakgroep Ekonomie aksienavorsing en werk saam met gemeenskapsleiers, plaaslike sakekamers en plaaslikeregeringstrukture om ’n ekonomiese regrukstrategie vir die gebied te implementeer. Die studente het in April hierdie jaar ’n oorkoepelende ontwikkelingsplan, bestaande uit agt subplanne, voorgelê. Die subplanne was die gevolg van uitgebreide navorsing wat gedoen is, gemeenskapsonderhoude en waarnemings deur kundiges.

Ná deeglike konsultasie met die Sharpeville-gemeenskap in Mei word die ontwikkelingsplan nou aan die hand van ’n prioriteitskaal geïmplementeer.  

 “Plaaslike ekonomiese ontwikkeling is ’n strategiese proses wat op die bestaande sterk punte van ’n gemeenskap voortbou in ’n gesamentlike poging om positiewe en volhoubare verandering te bewerkstellig,” verduidelik Danie. Hy voeg by dat die krag van ’n gemeenskap by die mense van die gemeenskap berus, en die sukses van intervensies soos die Sharpeville 2020-ontwikkelingsplan hang dus uitsluitlik van samewerking af. “Ontwikkeling is die gemeenskap wat verantwoordelikheid aanvaar om verandering te laat plaasvind, en navorsing is die instrument wat ons gebruik om daardie verandering te fasiliteer."

Die volgende projekte word tans geïmplementeer:

  1. Buurtontwikkelingsprojek vir Seeiso Street (hoofstraat)
    Drie hoofnodusse langs die hoofstraat is geïdentifiseer en sal die fokus van herlewingsaktiwiteite wees. Hierdie intervensie is die vlagskipprojek in die Sharpeville 2020-ontwikkelingsplan.
     
  2. Toerisme en bemarking
    Bemarkingsmateriaal wat die geskiedenis, kultuur en sakegeleenthede weerspieël, sal ontwikkel word. Die bekendstelling van ’n eiesoortige toerismeroete, skoonmaakbedrywighede, bewustheidsprojekte en ’n pasklaarstruktuur vir die Sharpeville-slagtingterrein sal ook geïmplementeer word. ’n Hoogtepunt in hierdie subplan is die bekendstelling van ’n bevrydingsentrum om akademiese toerisme ’n hupstoot te gee.
     
  3. Ontwikkeling van plaaslike kuns en handwerk
    Met behulp van ’n waardekettingontleding van bestaande kuns- en handwerkhandelaars en opgeknapte besighede het die studente ’n entrepreneurstrategie opgestel om hierdie sektor verder te ontwikkel en nuwe entrepreneurs aan te moedig.  In ’n bykomende navorsingsprojek sal studente die haalbaarheid van teaters en vermaakvenues ondersoek.
     
  4. Dhlomo Dam-ontwikkeling
    Die beoogde ontwikkeling by die Dhlomo Dam sluit in die vestiging van ’n toeriste-inligtingsentrum, die proklamasie van ’n natuurreservaat, en die ontwikkeling van ’n draf- en fietsryroete en ’n watergehalteprogram. ’n Moontlike stedelike landbouprojek en ’n besigheidsontwikkelingsnywerheid is ook op die tafel vir toekomstige ontwikkeling.
     
  5. Ontwikkelingsplan vir dienslewering en gemeenskapsgeriewe
    ’n Aksieplan is opgestel, en sluit in die identifisering van groot diensleweringsprobleme en die rapportering daarvan aan die plaaslike munisipaliteit. Ander intervensies sluit in die opknapping van die Sharpeville Stadsaal, die openbare swembad en sportgeriewe, en die opleiding van individue om dienslewering te bevorder.
     
  6. Stedelike landbou-ontwikkelingsplan
    Hierdie ontwikkelingsplan sal daarop fokus om ’n landboutonnel te ontwikkel. Dit sal met landbou-opleiding help en huishoudelike kostuine as ’n volhoubare voedselverskaffingsoplossing bevorder.  
     
  7. Kleinsake- en werkskeppingsplan
    Hierdie ontwikkelingsintervensie sal nou met die NWU se bhive-EDC in Vanderbijlpark saamwerk. By die bhive-EDC sal plaaslike entrepreneurs hulp met marknavorsing, besigheidsontwikkeling, netwerking en befondsingsgeleenthede ontvang.
     
  8. Nywerheids- en vervaardigingsontwikkelingsplan
    Die vervaardigingsfokus sal op bierbrou, kuns en handwerk en staal-verwante aktiwiteite wees. ’n Vaardigheidsopleidingsentrum en besigheidsontwikkelingsnywerheid maak deel van toekomstige ontwikkelingsplanne uit.

Vir meer inligting oor die Sharpeville 2020-ontwikkelingsplan, kontak prof Danie Meyer by Daniel.meyer@nwu.ac.za.


Prof Danie Meyer.

 

Submitted on Thu, 11/09/2017 - 13:43