SEW2018 plaas studente-entrepreneurskap op die voorgrond

Vir die tweede agtereenvolgende jaar het die Noordwes-Universiteit (NWU) – in samewerking met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) – ’n baie geslaagde entrepreneurskapweek vir studente aangebied.

Die inisiatief vir die Studente-entrepreneurskapweek (SEW) het in 2017 tot stand gekom en verteenwoordig ’n nasionale veldtog vir entrepreneurskapsontwikkeling wat ten doel het om alle voorgraadse studente te ondersteun wat entrepreneurskap as toekomstige loopbaan oorweeg. By hierdie jaar se weergawe van die inisiatief het die bhive EDC (Ondernemingsontwikkelingsentrum) op die NWU se kampus in Vanderbijlpark ’n vol program aangebied om beginner- sowel as reeds suksesvolle studente-entrepreneurs te motiveer.

Die kampusprogram het uit vier subprogramme bestaan, wat gepas die volgende genoem is: Kom ons maak ’n verskil in ons gemeenskap, Kom laat ons pret hê, Kom ons raak ernstig, en Kom ons raak kreatief.

  • Kom ons maak ’n verskil in ons gemeenskap

Deelnemende studente het vir ’n uitreikprogram in Sharpeville by die bhive EDC-span aangesluit. Die aktiwiteite het ’n begeleide toer van die ikoniese township ingesluit, asook ’n dinkskrumsessie oor hoe om van die daaglikse sosio-ekonomiese uitdagings te hanteer wat deur Sharpeville ervaar word. Ná die uitreik het studente die geleentheid gekry om hulle onderskeie sake-idees– soos dit op die sosio-ekonomiese uitdagings van dié bekende township betrekking het – voor te dra aan ’n paneel kundiges wat uit akademici, en lede van die gemeenskap en die bedryf bestaan het.

  • Kom laat ons pret hê

Verskeie prettige en interaktiewe aktiwiteite het studente van al die fakulteite die geleentheid gegee om met mekaar kontak te maak. Die aktiwiteite het uitdagings ingesluit soos: maak die ballon-emmer vol, ’n geheue-vasvra, ’n FIFA-uitdaging en Twister. Die aktiwiteite, wat op die grasperk voor gebou 6 plaasgevind het, het baie aandag getrek en talle studente het die pret tussen klasse geniet.

  • Kom ons wees kreatief

Studente wat idees vir nuwe sakeondernemings gehad het, het by die volgende werkswinkels baat gevind: Generering van idees, ’n idee tot by ’n konsep, en opleiding vir ’n voorlegging. Studente is deur middel van hierdie werkswinkels gelei om nie net die belangrikste uitdagings vir die begin van ’n nuwe onderneming te verstaan nie, maar ook om vaardighede te verkry soos die ontwikkeling van idees, marknavorsing en die ontwikkeling van ’n goeie sakeplan. Benewens dat studente waardevolle sakevaardighede geleer het, het die werkswinkels ook aan studente geleer hoe om soos entrepreneurs te dink.

  • Kom ons raak ernstig

Een van die hoogtepunte van die week was ’n seminaar waar studente by mekaar geleer het toe ervare studente-entrepreneurs hulle vaardighede en suksesverhale gedeel het. Hierdie entrepreneurs het die volgende persone ingesluit: Malcom Crellzy X (model en entrepreneur), Boitumelo Mofikoe (medestigter en besturende direkteur van MyGrowthFund, stigter en HUB van BM Ventures) en Thato Moeng (Muffineers). Die studente het saam op onderwerpe soos persoonlike handelsmerkgewing en die bou van ’n visie en leierskap gefokus.

 

By die middag se sessie het verskeie kundiges en mentors van hulle broodnodige kundigheid gedeel, asook die lesse wat hulle geleer het. Hierdie mentors het dr Joe Molete (lewensafrigter en strateeg), dr Lucas Moloi (voorsitter van die SA Instituut van Kwaliteit en Innovering en stigter van die Learning Eagles School of Entrepreneurship) en Florence Ndlovu (stigter van Rebels Pizza, Prime Impression-konsultant en hustlepreneur) ingesluit.

Mev Natanya Meyer en dr Clarise Mostert saam met van die persone wat die SEW2018 bygewoon het.

SEW2018-deelnemers by die Sharpeville-uitstalsentrum.

 

 

Submitted on Fri, 09/21/2018 - 12:16