Samewerking met Zimbabwe kan formele vaardighede vir vroeë kinderopvoeding aan oumas en moeders bring

Om kinders tot op sewe jaar oud te help om hulle volle potensiaal te verwesenlik, is vroeë kinderopvoeding noodsaaklik. Talle versorgers regoor Afrika is oumas en moeders sonder formele kwalifikasies. Die vul van hierdie gaping is een van verskeie gebiede waarop daar goeie samewerking tussen navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) en hulle eweknieë in lande soos Zimbabwe is.

Dr Marinda Neethling en dr Susan Greyling van die Fakulteit Opvoedkunde het Zimbabwe in Desember besoek om vriendskappe te smee en samewerking op hierdie gebied aan te moedig.

“Dit is ’n wonderlike groep vriende. Ons het saamgestem dat daar jare van samewerking voorlê,” sê dr Neethling.

Die twee NWU-navorsers het die leiers by die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Zimbabwe in Harare ontmoet om samewerkingsgeleenthede in vroeë kinderontwikkeling en inklusiewe onderwys te bespreek.

Dr Neethling se navorsing fokus op die opleiding van versorgers by tipiese sentrums vir vroeë kinderontwikkeling in Afrika. Hierdie versorgers is dikwels oumas en moeders sonder formele kwalifikasies. Dr Greyling fokus op bestuur in die vroeë kinderjare, wat as ’n skaars vaardigheid erken word.

Hulle het gedurende 2022 ’n kortkursus vir die opleiding van hierdie versorgers ontwikkel, en gefokus op praktiese lesse en aktiwiteite om die holistiese ontwikkeling van die jong kind te stimuleer. Sodra die kursus gesertifiseer word, sal dit regoor Afrika aangebied word.

Terwyl hulle in Zimbabwe was, het die twee NWU-navorsers ’n welwillendheidsbesoek aan dr Fae Chung, voormalige Zimbabwiese Minister van Onderwys en stigter van die forum vir opvoedkundiges onder vroue in Afrika (Forum for African Women Educationalists, FAWE) gebring.  Dr Chung het haar sieninge oor die belangrikheid van vroeë kinderopvoeding op die Afrika-vasteland gedeel, en die NWU geloof vir die werk wat hulle op hierdie gebied doen.

Planne vir 2023 sluit samewerking tussen navorsers van Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië in.

Dr Susan Greyling, dr Prosper Lunga, ’n Zimbabwiese postdoktorale student in die Gemeenskapsgebaseerde Onderwysnavorsing-entiteit (COMBER-entiteit) van die NWU, dr Marinda Neethling en dr Fay Chung, voormalige Minister van Onderwys van Zimbabwe en stigter van FAWE. Foto verskaf.
 

Submitted on Thu, 03/02/2023 - 11:59