Ruan vat die leisels

Dit was ʼn eenparige besluit – nie die spelers of spanbestuur het gehuiwer nie. Daar is net een man wat getaak kan word om die Noordwes-Universiteit (NWU) Arende se aanslag in hulle 2022 Varsitybeker-veldtog te lei en daardie man is Ruan “Sampie” Swiegers.

As vaskopstut is hy immers gewoond daaraan om sy span se soeke na voorvoetbal in die skrums van voor te lei en hy was in 2021 deel van die Luiperdgroep wat die Curriebeker Eersteliga-kroon verower het.

“Dit was ʼn baie groot verrassing, ek het dit nie verwag nie. Ek voel wel nie ekstra druk nie, so ek dink nie dit gaan my spel beïnvloed nie. Dit is net ʼn groot voorreg,” vertel Sampie.

Die 23-jarige is in Empangeni in KwaZulu-Natal gebore, waar hy ook gematrikuleer het. Daarna het hy hom by die NWU en die manskoshuis Laureus aangesluit waar hy menslike bewegingskunde saam met sielkunde studeer het. Tans is hy vir ʼn nagraadse diploma in besigheidsbestuur ingeskryf.  

Aanvanklik was rugby nie die eerste teiken in sy visier nie, maar ná die NWU se Chaka Willemse sy talent in die universiteit se koshuisliga raakgesien het, het hy hom deel van die NWU se o.19-groep gemaak. Nou is hy die gesig van die NWU se Varsitybeker-aanslag en hy en sy span het net een doel voor oë: “Ons wil die universiteit in sy geheel verteenwoordig en ons wil vir die universiteit wen. Ons is ʼn prosesgedrewe span en dit sal ons fokuspunt bly.”

En hy self?

“Ek wil die trui in ʼn beter plek laat en ek wil die kultuur wat ons die afgelope drie jaar gebou het oordra aan die volgende groep.”

“Dit is ʼn lang seisoen, maar almal het by ons plan ingekoop en nou is my werk net om die ouens gemotiveerd te hou. Ons moet op ons proses gefokus bly. As dit té sleg gaan of té goed gaan is mens geneig om die basiese beginsels en jou waardes te vergeet. Dit mag nie met ons gebeur nie.”

 Sy pa en held, Gielie Swiegers, het ook in die voorry vir die Blou Bulle gesak en wat stutspel betref het die appel nie vêr van die boom geval nie. “Ek hou van die fisiese deel van die spel. Dit is lekker dat daar amper van jou verwag word om die ouens bietjie seer te maak,” vertel hy vol genot met die tong in die kies. “Jy moet groot en fisies sterk wees met ʼn baie goeie tegniek. Omdat ek ʼn groot ou is, moet ek ook hard aan my fiksheid werk.” Sampie laat tans die skaal se naald tot by 128 kg klim, hoewel dit tot onlangs ietwat meer was. “Ek moes bietjie gewig verloor!” lag hy.

Daardie toegewydheid tot sy fiksheid en figuur maak gunstelingstokperdjies effens moeilik om na te streef... veral een: “Ek hou baie van visvang en braai, maar baie meer van braai as van visvang.”

En hy hou van rugby. Want, rugby is meer as net rugby.

“Rugby gaan oor broederskap. Die mense wat jy leer ken. Die saam sukkel en saam sweet. Die stories wat mens bou.”

Die NWU Arende se Varsitybeker-rugbystorie begin Maandag 14 Februarie.

....

Sampie Swiegers.

Submitted on Mon, 02/07/2022 - 08:50