RNE-kabinet moet die ekonomiese agenda uitstippel om groter beleidsekerheid te verseker

Die langverwagte aankondiging deur president Cyril Ramaphosa van die nuwe kabinet van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) is oor die algemeen goed vir besigheid en beleggersvertroue.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die NWU Besigheidskool, sê die markte gaan waarskynlik positief reageer wanneer hulle die nuwe mengsel van kabinetsaanstellings ontleed.

“Politieke sekerheid is noodsaaklik as die basis vir beleggings en arbeidsryke groei wat Suid-Afrika nodig het. Hoewel daar ’n moeilike pad voorlê, is die uitdaging nou om genoegsaam kragdadige leiding te verskaf vir ’n stabiele RNE wat munt slaan uit die positiewe momentum wat deur die uitkoms van die 2024-verkiesing bereik is.”

Volgens prof Parsons moet die RNE dus die implementering van die nodige ekonomiese hervormings bespoedig, aangesien die oorkoepelende verkiesingsboodskap ’n duidelik opdrag was om resultate te lewer. Die eerste stap vir die RNE in die daarstelling van ’n verandering, sou wees om ’n gevoel van dringendheid te skep.

“Uitstel was in die verlede een van die grootste vyande van dienslewering. Dienslewering op verskillende vlakke van regering moet dringend, konsekwent en strategies deur die nuwe kabinet nagejaag word. In hierdie verband het die RNE alreeds ’n herorganisasie van sekere portefeuljes binne ’n vergrote kabinet getoon.”

Prof Parsons sê Suid-Afrika moet nou die geleentheid aangryp om dinge anders en beter te doen. “Om dit te bereik, moet die RNE ook sy samewerking met die privaat sektor versterk en uitbou sodat dit benut kan word om dienslewering te bespoedig. Die sakegemeenskap sal veral met die nuwe posbekleërs van die interverbinde ekonomiese ‘kluster’ in die kabinet wil skakel, aangesien hulle besluite ’n invloed op die vorming van Suid-Afrika se toekomstige ekonomiese beleidsomgewing sal hê.”

Prof Parsons sluit af deur te sê dat die RNE se “spanpoging” ’n hoë vlak van volgehoue, gedissiplineerde politieke leierskap gaan vereis. “’n Groot stap vir die RNE-kabinet sal dus wees om spoedig ’n ooreengekome ekonomiese agenda aan te kondig wat groter sekerheid in sy beleid en aksies sal verseker. Hoe meer hervormings onder die RNE momentum verkry, hoe meer sal beleidsonsekerheid verdwyn, en vertroue in Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte sal uitbrei.”

Submitted on Mon, 07/01/2024 - 10:37