Riaan Venter se troepe breek die USSA-droogte

“Vat ’n blaaskans, asseblief!” skree afrigter Riaan Venter aan die spelers wat hy op die baan by die Fanie du Toit Sportterrein afrig. Dit is die middel van Januarie, ’n maand of wat ná die oorwinning van die Noordwes-Universiteit (NWU) Eagles by die tennistoernooi van Universiteitesport Suid-Afrika (USSA) in Makhanda, vroeër bekend as Grahamstad.

Dit was hier in die Oos-Kaap, vanaf 1 tot 8 Desember, dat die Eagles-span ’n 13 jaar lange wendroogte in die A-afdeling van die USSA-trofee gebreek het. Die B-afdeling het nie op hulle laat wag nie, en ook die louere ingeoes. Goeie dinge kom in pare.

Nou kan die beroemde tennisliefhebber agteroorsit en kyk na ’n taak wat goed uitgevoer is.

“Baie jare van frustrasie het tot ’n einde gekom,” sê Venter. “Die druk is verby, hoewel dit nie so lank moes gevat het nie.”

’n Mens moet daarop let dat die speelveld nie altyd gelyk was vir Venter en sy groep nie, maar die NWU se fokus was nog altyd om in die eerste plek talent te kweek.

“Ons glo daaraan om studente te ontwikkel om hulle volle potensiaal te bereik,” sê Venter.

“Ons het verlede jaar ’n meer gedissiplineerde benadering aangemoedig en ons het ons verskillende programme bygewerk en verfyn. Ons het ook ons spelers so ver gekry om aan groter toernooie deel te neem sodat hulle in meer kompeterende wedstryde kon meeding. Ons het by die USSA’s soveel deursettingsvermoë getoon en moes talle keer van agter af bykom. Ons het tydens die kompetisie van talle eerstejaarstudente gebruik gemaak. Die vasberadenheid en spangees was net ongelooflik,” verduidelik Venter, wat al 26 jaar lank ’n afrigter by die universiteit is.

“Ons was nie van die begin af ’n tennis-universiteit nie, maar ons het onsself opgebou om een te word. Ons het hierdie jaar ’n paar topspelers in die land gewerf. Ons nuwe kleibane het ’n groot verskil gemaak, en ons akademiese fokus beteken dat ons ’n goed afgeronde struktuur het. Dit was nog altyd my droom om ’n professionele opset saam met ’n studiegesentreerde benadering te hê. Daardie droom word nou bewaarheid.”

....

Submitted on Wed, 01/24/2024 - 10:34