Rektor beloon wenners van eerstejaarskarnaval

Die wenners loop met die louere weg – in hierdie geval was dit die Faranani-afkampuskoshuis van die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). Prof Linda du Plessis, waarnemende kampusrektor, het aan hierdie wenners van die 2017-weergawe van die eerstejaarskarnaval ’n kontantprys van R10 000 oorhandig.

Die karnaval het in Februarie plaasgevind en al die eerstejaars van die verskillende koshuise het aan ’n talentkompetisie genaamd Love! Look what you made me do! deelgeneem. Volgens Itumeleng Moroe, ’n lid van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) wie se opdrag Kuns en Kultuur is, het die tema van die gebeurtenis die maand met Valentynsdag goed aangevul.

Itumeleng verduidelik dat die doel van die karnaval nie slegs is om ’n gevoel van kameraderie onder nuwe eerstejaars te skep nie, maar ook om hulle aan die verskillende koshuiskulture bekend te stel. Die koshuise het in vier kategorieë deelgeneem: beste uitstalling, beste verhoogproduksie, beste brag, en trendy trash. Laasgenoemde is die interessantste en verbeeldingrykste kategorie, aangesien studente modieuse kledingstukke uit alledaagse weggooi-items moes skep. Hierdie kategorie het unieke skeppings geproduseer wat nie net die eiesoortige karakter van elke koshuis weerspieël het nie, maar ook die vindingryke maniere waarop alledaagse items ’n nuwe doel kan dien en op hierdie manier meer omgewingsvriendelik kan wees.

Die wenners van die tweede prys, Longfellow-koshuis, het R3 000 ontvang, en die derdepryswenners, Bohlale Village, R2 000.

 

Foto: Prof Linda du Plessis, waarnemende kampusrektor saam verteenwoordigers van die SR en die drie koshuise wat gewen het.

Submitted on Mon, 04/03/2017 - 11:04