Registrasie en oriënteringsprogram – ons eerstejaarstudente is belangrik!

“Ons eerstejaarstudente is belangrik en dus wil ons nie hê dat jy jou eerste jaar aan die universiteit bloot moet oorleef nie – ons wil hê dat vir jou ’n wonderlike ervaring moet wees!” Só sê me Prem Coopoo, die Dekaan van Studentesake aan die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU Vaal).

Die nuwe inname van eerstejaarstudente begin vanaf Maandag 23 Januarie 2017 met die jaarlikse registrasie- en oriënteringsprogram.  

Registrasie- en oriënteringsprogram 2017

“Ons doel is om tydens die registrasie- en oriënteringsprogram alle eerstejaarstudente vir hulle oorgang na die universiteitslewe en die uitdagings en geleenthede wat voorlê – op intellektuele, emosionele, akademiese en sosiale gebied – voor te berei,” sê me Coopoo. Dit is ook me Coopoo se visie dat die program in die akademiese jaar en daarna sal voortduur, aangesien sy van mening is dat programme soos hierdie aan studente die nodige ondersteuning en vaardighede verskaf wat hulle verby hulle vooropgestelde idees van universiteitstudie na ’n suksesvolle en holistiese universiteitservaring sal neem.

Volgens me Coopoo loop talle eerstejaarstudente ’n potensiële risiko wanneer hulle die hoëronderwysomgewing vir die eerste keer betree.  Sy identifiseer risiko’s soos om nie die lewe op die kampus te kan hanteer nie; om nie akademies die mas op te kom nie; en om nie soos beplan die universiteitsprogram te slaag nie as sommige van die potensiële struikelblokke.  “Ons vind dat selfs studente wat op hoërskool akademies suksesvol was, soms vind dat die oorgang na leer op universiteit baie moeilik is,” sê me Coopoo, en voeg by dat om te verseker dat alle studente slaag, die kampus verskeie akademiese en personeelondersteuningstrukture in plek het.

Die eerste stap tot ’n probleemvrye oorgang is volle deelname aan die goed gekoördineerde registrasie- en oriënteringsprogram. “Die doel van die oriënteringsprogram is ook om ons nuwe groep studente te help om geleenthede vir betrokkenheid by studente-organisasies te ondersoek, en om hulle suksesvol by hulle nuwe gemeenskap van portuurgroepe, senior studente en kampuspersoneel te laat inskakel.” Die NWU Vaal spog met meer as 30 studenteverenigings (kultureel, polities, godsdienstig, ens.) en 14 sportklubs.

Spesiale fokus

Tydens die registrasie- en oriënteringsprogram word spesiaal gefokus op sensitiewe kwessies soos menseregte, stereotipering, LGBTI- (lesbiese, gay-, biseksuele, trans- en interseks-) regte, emosionele intelligensie en die verantwoordelike gebruik van sosiale media.

Sterk vriendskapsbande word tydens die registrasie en oriëntering gevorm

“Een van die belangrikste uitdagings wat die eerstejaarstudente ervaar, is om ’n balans tussen klas- en buitemuurse aktiwiteite te vind,” verduidelik me Coopoo, en sê dat dit belangrik is om te onthou dat al sulke keuses binne die raamwerk van ’n student se akademiese skedule gemaak moet word. “As nuwe student sal jy nuwe mense ontmoet, meer oor die kampus se hulpbronne uitvind, leer hoe om jou pad op ons pragtige kampusterrein te vind, en baie pret hê!”

Vir enige navrae, kontak die Dekaan van Studentesake deur ’n e-pos te stuur aan prem.coopoo@nwu.ac.za of deur 016 910 3244 te skakel.

* Die kampus bied op Saterdag 4 Februarie 2017 ’n verwelkomingsdag vir die nuwe studente en hulle ouers aan. Die verwelkomingsdag volg op voltooiing van die registrasie- en oriënteringsprogram, en die doel van die geleentheid is om die nuwe eerstejaarstudente by die Noordwes-Universiteit, en meer spesifiek die Vanderbijlparkkampus, te verwelkom.

 

Me Prem Coopoo

 

Submitted on Fri, 01/13/2017 - 12:37